Entertainment

Rubriek: Kersklappe of kersklappers..?

Daar is twee faksies hierdie tyd van die jaar. Diegene wat begin uitreik en goed doen, en die ander wat mekaar iets wil aandoen.

Die “Silly season” is om die draai. Na afloop van gebeure in 2025 moet dit miskien na die “Sillier Season” herdoop word, want dit was wêreldwyd ‘n mal jaar.

Konflik in die Midde-Ooste, die Danie Botha-wegraping en die alewige dreigende derde wêreldoorloog. Tsek! Wat gebeur moet gebeur! Maar glo dit of nie, kersversierings en produkte begin al op die rakke verskyn.

En ja, Michael Bublé en Boney M se treffers gaan weer bo-aan winkels se speellyste pronk. Dank die liewe Hemelse Vader dat Kurt Darren nie ‘n manier kon vind om die kerstreffermark in ‘n web toe te spin nie.

Daar is twee faksies hierdie tyd van die jaar. Diegene wat begin uitreik en goed doen, en die ander wat mekaar iets wil aandoen. En toe wurg ek hom Parampapampaaam!!! Oorwurm!

Hoewel ek nie geweld in die werksplek of elders aanhits of goedkeur nie, is daar sekerlik geen wet daarteen om tydens ‘n fantasievlug jou arms wild rond te swaai en toevallig ‘n kollega, staatswerker, baas of korrupte politikus met ‘n stoel in die smoel te tref nie.

Gelukkig is meeste sterflinge nie so impulsief en aggressief nie. Maar wees gewaarsku as iemand stilswyende met ‘n onheilspellende glimlag voor hulle rekenaar sit en uitstaar.

‘n Brokkie advies: Moenie hulle rus verstoor nie, loop eerder op jou tone verby. As daar aan die begin van die jaar voorspel is dat daar ‘n skietstilstand in Midde-Ooste sou plaasvind en dat die naam Donald Trump en die Nobelprys vir Vrede in dieselfde asem genoem sou word, sou meeste mense geproes het van die lag.

Dis amper so onwaarskynlik soos ‘n werkende Emfuleni Munisipaliteit. Plaaslik hoop en bid ons vir beter dienslewering in ons kerskouse.

Weldoeners en sakelui weet egter van beter. Die VBC is ‘n goeie voorbeeld van wat jy kan vermag as jy self inspring.

Darem is die rioolstorting probleem by die EcoPark in Vaalpark ook intussen opgelos. Nou kan Bambi en sy ma ook skoon water opslurp.

Die tweede faksie is diegene wat met hulle uitreik- en skoenboksprojekte liefde en hoop deel.

Soms val dit op vrugbare grond ander kere nie. Party doen dit regdeur die jaar, ander se hartsgeskenke word eers later in die jaar uitgedeel.

Ek was onlangs in die bevoorregte posisie om ‘n storie oor Kosmos Vroue te doen wat saai en terugploeg in die gemeenskap.

Dit het my weer laat besef dat ons Vaaldriehoekers harte van goud het en dat daar baie pyn, lyding en behoeftiges daar buite is. Besluit wie jy wil help. Die lewe is vol mense wat klappe en drukkies uitdeel.

Vind net ‘n balans. Soms is konflik nodig, maar liefde kan baie wonde genees en geld maak reg wat krom is.

Louis Liebenberg

Onthou net hierdie feestyd: Jy kon Louis Liebenberg wees wat agter tralies sit en kyk hoe mense hulself verlustig terwyl jou bates wat jy wederregtelik bekom het onder jou neus opgeveil word. Staan sterk!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button