Plaaslike nagtegaal in Virginia Lee-huldeblykkonsert by AfriForum-teater
’n Nagtegaal uit die Vaal bring in Julie die sangeres Virginia Lee se treffers lewendig by AfriForum Teater.
MEYERTON – Die plaaslike sangeres Yolandie sal in Julie saam met die Bosveld Stereo-aanbieder Theonette Vogt ‘n Virginia Lee-huldeblykkonsert na die AfriForum Teater in Pretoria bring.
Die konsert, getiteld “Onthou jy nog… Virginia Lee Huldeblyk”, is saamgestel onder leiding van vervaardiger Lee Bruwer. Dit sluit ‘n lewendige orkes en backing vocals van talentvolle kunstenaars uit die Vaaldriehoek in, saam met Theonette Vogt van Pretoria.
Konsertgangers kan uitsien na ‘n versameling van Virginia Lee se grootste treffers in beide Afrikaans en Engels. Virginia Lee (27 Junie 1927 – 7 Januarie 1990) was ‘n Suid-Afrikaanse sangeres van ligte musiek, veral bekend vir treffers soos Vaarwel my lief (haar grootste treffer), Ek sal jou nooit vergeet nie, Jy is my liefling, Twee Witte Duifies en Groen Koringlande.
Die produksie sluit ook dansoptredes in deur dansers van Danzwrx Dance Studio, asook die Laerskool Villieria-koor, onder leiding van Mariska Campbell.
Die konsert beloof om ‘n multidimensionele viering van musiek en nostalgie te wees, waar nie net Virginia Lee se liedjies gevier word nie, maar ook die herinneringe en emosies wat haar musiek oor generasies geskep het.
Die vertoning is op 11 Julie omstreeks 19:00 by die AfriForum Teater.
Kaartjies kan by die AfriForum Teater se webblad afriforumteater.co.za bespreek word teen R150 per persoon.
