Die droom het vlerke… Alexander word onthou
Vier jaar gelede het 'n pizzeria oopgemaak in herinnering aan 'n baba wat op 16 maande aan breinkanker oorlede is. Dit was net die begin....
VEREENIGING – Pizzas. Wie kan nee sê vir ʼn lekker pizza? Dit was Alexander Maas se gunsteling kos. Die kleinding is egter op 16 maande oorlede aan breinkanker. Dit was in 2017.
Sy ouers, Monique en Steven, wou iets op die been bring sodat almal Alexander kan onthou.

Monique het jare gelede in Engeland by ʼn Italiaanse restaurant gewerk en geleer hoe om regte, Italiaanse pizza te maak. So het ʼn droom ontstaan om haar eie pizzeria oop te maak.
Die naam het hul eerste in plek gehad – Alexandros, vernoem na hul bruinkop, blinkoog seuntjie wat hulle aan die dood moes afstaan.

In 2022 het alles uiteindelik in plek geval en het hul Alexandros in Arcornpark oopgemaak. Met Sjef Tendai Samhokore aan die stuur van sake in die kombuis, was Alexandros baie vinnig gewild.

Monique sê hul pizzas smaak so lekker want die meel word van Italië ingevoer en hul maak hul Napolitaanse sous self en natuurlik word dit in ʼn houtvuuroond gaargemaak.

Intussen het haar oorspronklike droom vlerke gekry. Die Vereenigingwinkel spog nou met sitplekke waar mense rustig kan pizzas eet. Dan is daar ook nou Alexandros-pizzerias in Sasolburg en Meyerton en ja, hulle gaan verder uitbrei.

Gaan besoek gerus Alexandros se Facebookblaaie by Alexandros Pizzeria, Alexandros Pizzeria Meyerton en Alexandros Pizzeria Sasolburg.