VEREENIGING – Die Vereeniging Rugbyklub (VRK) se eerste rugbyspan is die Valke Peregrine-kampioen nadat hy gistermiddag op die Bosman-stadion in Brakpan vir Brakpan op sy tuisveld net-net met 20-19 geklop het.
Om die panne op hulle tuisveld te klop sit nie in enige span se broek nie, maar die VRK-breintrust van Ockert Brits, Shaun Botes en Fanie van Wyk het gesorg dat hulle troepe die wa deur die drif trek.
VRK het met die titel-sege sy plek in die Pick n Pay Gold Cup bespreek wat op 26 September afskop.

Die Pick n Pay Gold Cup is Suid-Afrika se voorste nasionale klubrugbykompetisie vir nie-universiteitsklubs en word dikwels die “FA Cup van Suid-Afrikaanse klubrugby” genoem.
Die kompetisie se wortels lê in die ou Nasionale Klubkampioenskap, terwyl die moderne Gold Cup in 2013 as die SARU Community Cup begin het en in 2016 die naam Gold Cup gekry het.
Die toernooi het sedertdien ontwikkel tot ’n uitklopkompetisie waarin die beste klubs uit die provinsiale rugby-unies mekaar die stryd aansê.
Die 2026-toernooi is die 10de Gold Cup en begin op 26 September, met 32 klubs wat in die eerste ronde meeding, dit sluit twee spanne uit elk van die 15 provinsiale unies in, plus die verdedigende kampioen en ’n wildcard.
Naka Bulle is die huidige kampioen nadat hulle die titel in 2023, 2024 en 2025 gewen het.
