Dié sportster ook koning op die loopplank
Austin Krog-Coetzee skitter in alles wat hy aanpark. Van skopbokskampioen in die laerskool tot loopplank model en eerstespan rugby haker.
VANDERBIJLPARK – Austin Krog-Coetzee het sewe jaar gelede met modelwerk begin en is deel van ACE Models Potchefstroom. Deur die jare verskeie titels ingepalm. Tans is hy ʼn finalis in die Mnr. en Mej. Ace Models International Kompetisie.

Die finale rondte vind van 7 – 9 Desember in Centurion plaas. By die onlangse ACE Models Nasionale Konferensie wat by die Emerald Resort & Casino gehou is, het Austin skoonskip gemaak.
Hy erken hy het al die jare modelwerk gedoen omdat sy ma en suster in die bedryf is. “Hierdie is my laaste jaar wat ek dit doen,” verklaar hy. Austin is ʼn voormalige hoofseun van Laerskool Totius en was hierdie jaar onderhoofseun by die Hoërskool Overvaal.
Austin se passie lê by sport. Hy het vir 13 jaar in skopboks uitgeblink en kan ook sy man staan op die krieketveld en atletiekbaan. Die sport wat hom die naaste aan die hart lê is rugby. Volgende jaar gaan hy by die UXi Sport High-Performance Rugby Programme in Pretoria aansluit.
Sy grootste droom is om vir die Springbokke uit te draf. Austin speel haker, ʼn posisie wat sy ma, Jackie bekommerd het, maar hy sukkel om met ʼn skrumpet te speel. “Die ding is warm en ek wil blomkoolore hê,” lag hy.
