Local news

Soektog in Walkerville nadat tier ontsnap

Die Vereeniging/Vanderbijlpark Dierebeskermingsvereniging het inwoners gevra om hulle te skakel indien hulle die kat sien.

WALKERVILLE. – Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) van Vereeniging en Vanderbijlpark sê daar word gesoek na ‘n tier wat glo ontsnap het.

Die dier is glo deur ‘n privaat inwoner aangehou maar het ontsnap.

Volgens kol. Dimakatso Sello, ‘n polisiewoordvoerder, het die dier uit sy hok ontsnap en ‘n 39-jarige man en sy hond aangeval.

Cert-SA sê hulle het ongeveer 10:50 Sondag gereageer nadat ‘n man in die Highbury-omgewing deur die tier aangeval is.

Die tier is op ‘n plaas in Walkerville gehou voor die dier ontsnap het. Foto: Facebook

Met aankoms het ons die manlike pasiënt en sy hond aangetref. Albei het verskeie bytwonde gehad.

Die pasiënt is op die toneel behandel en deur ER24 na ‘n nabygeleë hospitaal geneem vir behandeling.

Die hond is ernstig beseer en is op die toneel deur lede van die DBV uitgesit,” lees ‘n uittreksel uit ‘n verklaring wat deur Cert-SA uitgereik is.

Daar word geglo dat die tier na ‘n nabygeleë plaas ontsnap het toe die draad gedurende die nag geknip is, vermoedelik deur inbrekers.

Die tier het glo ontsnap toe inbrekers die draad geknip het. Foto: Verskaf
Die tiere is in ‘n omheinde kamp op die eienaar se kleinhoewe in Walkerville aangehou, maar een – ‘n wyfie – het glo ontsnap toe inbrekers vermoedelik die draad geknip het. Foto: Verskaf

Plaaslike owerhede soek tans na die dier en hoop om haar te vang.

Lede van die plaaslike buurtwag, die DBV en die polisie is glo op die toneel.

‘n Polisiehelikopter help ook soek vir die dier.

Inwoners van Walkerville word gevra om die DBV by 083 292 5862 te skakel indien hulle die dier gewaar.

Mense kan ook vir Mark (van die plaaslike GPF) by 082 559 4158 of vir Steven (ook van die plaaslike GPF) by 073 170 4402 skakel of alternatiewelik die kontrolekamer by 016 360 7500 skakel.

Inwoners word ook gevra om weg te bly van die dier aangesien sy gevaarlik is.

‘n Helikopter soek vir die ontsnapte tier. Foto: Facebook/CERT-Sa : Parys / Vaal
Lede van die plaaslike buurtwag, die DBV en polisie by die toneel waar ‘n man en sy hond aangeval is. Foto: CERT-Sa : Parys / Vaal

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button