Na 47 somers en winters op Moeder Aarde het ek gedink dat ek al als gesien en beleef het. Dit was baie naïef.
Ek het al dronk, halfdronk en glad nie dronk Oujaarspartytjies beleef, maar 2024 s’n het my asem soos ‘n sopie Straw Rum weggeslaan. Soos dit ‘n goeie gesins -en kerkman betaam het die uwe en sy gade vroegdag daarop besluit om by ‘n gesinsvriendelike kuierplek in die Vaaldriehoek – ja daar bestaan nog sulke plekke – die Nuwe Jaar binne te gaan.
Net vir die rekord gesinsvriendelik in die konteks beteken ‘n kuierplek met ‘n speelplek. Hoewel die aandjie op ‘n ligte drafstappie begin het, het die ponies later in die pylvak galop. Hoe later, hoe kwater.
Diegene wat in voorbodes glo of bloot net die uitwerking van wingerdvoggies en Germaanse brousels op die menslike liggaam verstaan, sal my daarop uitwys dat daar tekens was dat dit ‘n interessante aand gaan wees.
Miskien was die eerste teken die jongman met die twee linkerknieë en ‘n lastige systap wat sy misnoeë met ‘n mede-Vaaldriehoeker in die parkeerarea uitgespreek het.
Maar dis mos normaal in die Vuildriehoek. Ek het myself nie te veel daaraan gesteur nie. Na die Van Rensburg-clan en hul aanhangsels stelling naby die speelarea ingeneem het en hul innerlike versterk het, was dit tyd vir ons nasionale tydverdryf om ons medemens te bekyk.
Die dansvloer was maar stil behalwe vir die jong plaasboertjie met sy khaki kortbroek, Kudu-vellies en leerhoed wat sy ounooi geklee in ‘n wit dungaree met groot pienk blomme daarop op die dansvloer rondswaai dat die strikkie in haar hare soos ‘n vlieër wapper.
‘n Ou bok hou mos van jong blare, maar dit daar gelaat. Laat die verbode liefde blom! In vino veritas is ’n Latynse frase wat beteken in wyn is daar waarheid.
Mense se maskers val af en ware gedagtes, begeertes en woorde kom na vore wanneer hulle onder die invloed van alkohol is.
Die impromptu ontklee-vertoning deur een van die aangeklamde partytjiegangers is gelukkig met ‘n goedgeplaasde plathand teen sy agterkop deur sy gade gefnuik. Slimjan was egter nie gereed om die aftog te blaas nie.
Die belt wat hy met suggestiewe bewegings verwyder het, is helaas soos Japenese vegstokkies (nunchucks) rondgeslinger wat selfs Chuck Kaaswors met ‘n rooigesig sou gelaat het.
Na ‘n mislukte gesmekery is hy aan sy oor weggesleep. Ons kon weer na die lagbui asemskep. Maar dit was net die begin. Na ‘n kortstondige afwesigheid was hy terug op die dansbaan. Maar die keer het hy onwetend ‘n Twinsoft-stertjie ontwikkel wat agter by sy blou denimbroek uithang.
Nou diegene wat my ken sal weet dat ek op daardie stadium op die grond rondgerol het van die lag. Hoewel ek teleurgesteld was in die mooi jong dame wat hom reggehelp het, het sy my waarskynlik van ‘n onderonsie gered deurdat sy aandag van my lagbui afgetrek het.
Die aand het darem verder sonder voorval verloop en ons kon die Nuwe Jaar met ‘n glimlag en ‘n lied in die hart binnegaan.
Op pad huis toe het ek besef dat daar waarheid in die komplimenterende sinsfrase in aqua sanitas steek, wat beteken: in water is daar gesondheid. Hoewel dit sekerlik waar is, gaan geen goeie storie begin met die woorde: “Check hier, hou my water vas!”
