Rubriek: ANC bak mooi broodjies en deel dit uit
Die wêreld is op sy kop gekeer en niemand kan die waansin van politiek vryspring nie.

Terwyl die Swaard van Demokles, of moet ons eerder sê die Swaard van Donaldus Trumpules, oor die kop van die SuidAfrikaanse regering hang, het die ANC belangriker dinge om aan aandag te gee.
Terwyl Leo Brent Bozell iii, die VSA se ambassadeur na Suid-Afrika, waarsku dat die Amerikaanse-regering se geduld met die Ramaphosa-administrasie besig is om op te raak, rits die president rond.
As hy nie aanbied om as bemiddelaar vir vrede in die Midde-Ooste op te tree nie, woon hy onder meer die begrafnis van die Amerikaanse burgerregte-ikoon, Jesse Jackson, in Amerika by.
Maar hoekom nie? Die land is in goeie hande. Voor die munisipale verkiesing word daar nie net mooi broodjies gebak nie, dit word sommer uitgedeel ook.
Brandstofpryse skiet die hoogte in weens die oorlog in Iran, maar steeds word daar met Koning Leeu se maanhare gespeel. ‘n Brief wat medelye aan Iran betoon na die afsterwe van hulle opperste hoogste leier, is mos ‘n slim skuif om by die Trumpadministrasie te flikflooi.
Intussen sit Gauteng sonder water en daar gaan nie ‘n week verby dat die Emfulenimunisipaliteit by een om ander skandaal of bedrogspul geïmpliseer word nie.
Die nuutste is ‘n vlootskandaal wat glo R16m beloop. Aankoopstelsels is omseil en toerusting en voertuie is gekoop, maar nooit in ontvangs geneem nie.
Boonop, ondanks groeiende druk, weier die burgemeester, Sipho Radebe, om te bedank. Hy klou soos modder aan ‘n wolkombers.
Een brokkie goeie nuus is dat die ELM munisipale bestuurder, April Ntuli, op vyf aanklagte wat verband hou met oortredings van omgewings- en waterwetgewing weens riool besoedeling in die hof verskyn het.
Die saak is uitgestel tot 4 Mei en verdere aanklagte kan moontlik nog bygevoeg word. Verder staar Vaaldriehoekers en SuidAfrika hewige brandstofverhogings van tot R8 teen April in die gesig.
Daar is geen oplossing hiervoor nie. As lande soos Australië nie eers genoegsame voorsiening kon tref om brandstofreserwes te verseker nie, sidder ek om te dink wat in SA gaan gebeur.
Al raad wat ek kan gee is, draai elke sent om en beperk jou ryery, want een van die dae werk ons almal weer van die huis af. Nie omdat ons wil nie, omdat ons moet.
Staan sterk!
