Mirandi vat herstelpad met glimlag aan
Mirandi se stem was stil die afgelope paar maande nadat haar gesondheid haar gedwing het om dit 12 weke rustig te vat.
VEREENIGING – Die Vaaldriehoek se eie sangsensasie Mirandi Mörsner se 2026 het tot dusver nie heeltemal volgens plan verloop nie.
Nadat sy die dokter besoek het omdat sy die heeltyd naar was en maagpyn gehad het, is daar gevind dat haar galblaas verwyder moes word. Vir die volgende vyf weke moes sy haar stil gedra.

Iets wat moeilik is vir die lewenslustige Mirandi, maar sy het darem na die dokter geluister. Ná die eerste operasie het die dokter gesê dat die sonarfoto’s wys dat daar baie poliepe (abnormale weefselgroeisels) op haar baarmoeder is.
Die onverwagse diagnose het haar onkant gevang, want haar baarmoeder is jare gelede al verwyder. Pas herstel van die eerste operasie is sy ginekoloog toe. Hy het bevestig dat haar baarmoeder wel verwyder is, maar dat daar gewasse is op haar eierstok en einde Maart is die eierstok verwyder.
Die gewasse het nie kwaadaardig gelyk nie, maar is wel weg gestuur vir toetse. “Ek het tot dusver nie nuus gehoor nie, so glo als is fine,” sê sy.
Alhoewel sy nie goed gelyk het na die narkose nie en baie pyn gehad het, voel sy al baie beter. Die keer moet sy vir ses weke in die bed bly en sê sy sy is dankbaar sy is al halfpad.
Haar musiek het agterweë gebly weens haar gesondheidsprobleme. Sy belowe egter dat sy eersdaags weer skouer aan die wiel gaan sit en dan sal haar aanhangers weer na hartelus na haar uitsonderlike sangstem kan luister.
