NewsNews

Wanneer Covid-19 skielik naam kry

VANDERBIJLPARK. – In die dorp en omstreke is dit asof die koronavirus nog wegkruipertjie speel agter lae syfers. Dit veroorsaak dalk dat ons te mak geraak het.

Die winkels en strate is al weer net so bedrywig soos voor 27 Maart. Klaagliedere is daar baie, die rokers soek briesend na sondebokke, en die samesweringsteorieë en dogmas floreer.

Maar, wat gebeur as Covid-19 skielik ‘n naam en gesig kry wat jy ken? As die virus nie meer wegkruipertjie speel nie, maar oop en bloot op jou voorstoep dans? Dié vrae het my geteister nadat ek oor die naweek gesien het een van my vriende in die WesKaap se kollega is oorlede. Kort daarna het hy die nuus gedeel dat nog vier van sy goeie vriende positief getoets het.

Anton Bester

Anton Bester is ‘n pa van twee wat in sy vrye tyd foto’s neem en lekker kan storie. Hy woon en werk aan die Weskus. Net maar een van ons, maar ook ‘n opgeleide trauma terapeut wat die trauma vortex wat net ‘n hoësorg-eenheid kan veroorsaak te goed ken, al loop sy spore nou se dae in ander rigtings.

Ek kontak hom op soek na antwoorde. “Ja, die virus is hier in die Kaap nou nie meer anderkant die straat of die muur nie. Ek het net laasweek op my stoep gesit toe een van my beste vriende my laat weet hy het positief getoets”, sê hy en ek hoor die kraak in sy stem. “Dit het my hard getref. Ek het gedink ek is gewoond aan alles, maar om binne ‘n paar dae te hoor vier van jou vriende is siek en dan nog ‘n kollega ook te verloor…”

Hy raak stil. Ek vertel hoe mense vir my gelag het omdat ek met ‘n gesigskerm aan in die straat geloop het. “Gaan jy sweis?” het die man gevra en toe hard vir sy eie grappie gelag. “Sê vir hulle, ‘count yourself lucky’ dat hulle nog nie die virus in die oë moes kyk nie.” Weer ‘n oomblik stilte en dan… “skryf daar, hulle ongeërgdheid maak seer. Want dit maak seer om al hierdie grappies en teorieë te hoor as jy weet die virus het by jou mense kom aanklop.”

Anton sê hy weet wat die situasie aan ons koppe doen… en nog gaan doen. “Nie omdat ek ‘n slimjan YouTube warrior of sensasie-soekende leeswurm geword het wat aan elke blaartjie nuus op facebook knaag nie. Gewoon omdat ek vir baie lank daagliks mense in oomblikke sien oud word het wanneer trauma onverwags aan hul voordeur klop en hulle onvoorbereid in die traumastorm gegooi word. Al jou eina, bang en deurmekaar lewens-files waai oop en dwarrel die wêreld vol. Dit is hoe dit is… ons kan dit probeer ontken of agter allerande goed wegkruip. Vryspring sal jy dit nie as jou lewensdeur oopwaai nie.

“Ons is in traumatyd… bigtime. Alles wat ons sien, hoor, lees of kwytraak oor COVID-19 bevestig dit. Die arrogansie, ongeërgdheid, paranoia, conspiracy theories, fopnuus, vrae, opregte pogings om geverifiëerde inligting te gee… elke poging om die ding te bestuur. Elke stukkie onsekerheid, die vrees by almal van ons oor ons eie ekonomiese oorlewing. Al die kritiek teen leiers, uiteenlopende statistiese vergelykings… alles vertel op ‘n manier dat ons regtig in diepwater is. Ons was nog nooit hier nie. Hierdie is nuwe vaarwaters. Selfs die beste pogings tot positiewe denke gaan maar sukkel-sukkel”.

Hy sê toe hy Saterdag die nuus van nommer vyf gekry het, het hy gewonder wat moet hy nou doen? Wat enige een van ons nou kan doen… Neem verantwoordelikheid vir jouself en vir ander. Hou by die reëls. Ter wille van jou eie gesondheid en jou geliefdes s’n.

Die waarheid van sy raad tref my eers ‘n dag later toe hy vroegoggend ‘n boodskap stuur: “Die kollega-vriend wat oorlede is… AL sy familielede, behalwe een, het ook positief getoets.”

En ‘n joernalis huil, want die virus is nie meer net ‘n vreemde naam in ‘n ander land nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button