Solidariteit wen saak teen rassistiese SAPD-lede
Twee lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is skuldig bevind op verskeie kriminele klagte wat verband hou met vals bewerings van rassisme nadat hul eertydse bevelvoerder, luitenant-kolonel Annemarie Oosthuizen, hulle krimineel aangekla het. Solidariteit, wat Oosthuizen verteenwoordig het, verwelkom die hofuitspraak van die streekhof in Noordwes wat in Stilfontein gesit het wat die twee lede skuldig bevind het aan aanranding, regsverydeling, meineed en crimen injuria.
Oosthuizen het reeds in 2017 dissiplinêre stappe ingestel teen die twee junior lede onder haar bevel wat hulself skuldig gemaak het aan wangedrag deur sonder toestemming of verlof nie vir werk op te gedaag nie. In hul reaksie op die dissiplinêre stappe het die twee adjudant-offisiere ʼn klag van crimen injuria teen Oosthuizen geopen deur aan te voer dat sy die k-woord gebruik het om na hulle te verwys. ʼn Voormalige intern, me. Sechele, wat na vore getree het om teen hulle te getuig, is ook geïntimideer, maar het ondanks haar persoonlike veiligheid en eie loopbaansekuriteit volgehou met haar getuienis wat die twee adjudant offisiere se vals bewerings van rassisme weerlê het.
Oosthuizen is daarna, op aandrang van Popcru, aan ʼn interne departementele ondersoek en verhoor onderwerp, en dit ten spyte van Sechele se getuienis. Solidariteit het Oosthuizen regdeur die proses verteenwoordig en sy is tydens die departemente verhoor onskuldig bevind op al die aanklagte van wangedrag. Tydens die verhoor is ook bevind dat die adjudant offisiere en hul getuie blatant onder eed leuens vertel het. Ongeag die bevinding het die SAPD tot op hede nog geen departementele stappe teen die twee adjudant-offisiere se onregmatige aksie ingestel nie. Solidariteit het ʼn arbeidsdispuut ingevolge die Wet op Billike Indiensneming namens Oosthuizen na die arbeidshof in Johannesburg hieroor verwys.
“Die uitspraak in die kriminele saak is nie net ʼn oorwinning vir luitenant-kolonel Oosthuizen en Solidariteit nie, maar ook vir enige persoon in die openbare sektor wat valslik van rassisme aangekla of beskuldig is,” sê Renate Barnard, ʼn sektorkoördineerder by Solidariteit. “Dit stuur ʼn duidelike boodskap aan die werkgewer, wat in hierdie geval die staatsdiens is, dat rassisme teenoor wit werknemers ʼn werklikheid is en dat dit in dieselfde ernstige lig beskou moet word as wat hulle rassisme teenoor swart mense beskou.”
Alhoewel Solidariteit enige veldtog teen rassisme verwelkom, is die vakbond van mening dat geen veldtog teen rassisme suksesvol kan wees as dit slegs een ras uitsonder nie. Die ANC, wat die regerende party is, en nou rassisme wil beveg, moet in gedagte hou dat hy die werkgewer is wat in hierdie, en talle ander gevalle, self versuim om teen alle vorme van rassisme op te tree.
“Dit is skokkend dat polisiebeamptes binne die polisiediens aan sulke optrede aandadig is. Dit is nog skokkender dat die werkgewer nie optree nie. Versuim deur die werkgewer om teen wangedrag en veral rassisme op te tree, trek sy bevoegdheid sterk in twyfel en laat die vraag ontstaan dit nie doelbewus is nie,” voer Barnard aan.
Vonnisoplegging in die kriminele saak wat meer as drie jaar geneem het, sal op 19 Junie plaasvind. “Ons is verheug oor die uitspraak en dat geregtigheid uiteindelik geskied het. Ons is ook dankbaar vir me. Sechele wat vir die waarheid opgestaan het en sodoende ook vir reg en geregtigheid. Hierdie saak skep ʼn duidelike presedent in ons stryd teen diskriminasie en veral rassisme en dubbelstandaarde in die SAPD,” sluit Barnard af.