President Hyper weer oop na werknemer positief toets
VANDERBIJLPARK. – Die deure van President Hyper, een van die gewildste sentrums in die Vaal, was gister nog gesluit nadat ‘n werker glo die vorige dag positief getoets het vir Covid-19. Dit het tot protes buite die hekke gelei deur ander werknemers wat daarop aangedring het dat hulle vir Covid-19 getoets wil word.
Die bestuur het ‘n verklaring uitgereik waarin hulle bevestig het dat ‘n werknemer wel positief getoets het vir Covid-19. Hulle het daarna reeds op 10 Junie die winkel onmiddelik gesluit en ‘n professionele dekontaminasiespan is aangestel om die winkel skoon en veilig te maak.
“Al die korrekte prosedures is gevolg en dus is die winkel nou weer oop,” lui die verklaring.
Hulle het ook bevestig dat al die werknemers wat in noue kontak was met die werker wat postief getoets het, ondersoek is en nou by hul huise in self-kwarentyn is vir die die volgende 14 dae. Daarna sal hulle streng ondersoek word voordat hulle kan terugkeer werk toe.
Al die ander personeel word ook gemonitor en hul temperatuur word gereeld geneem.
“Ons het voorheen streng reëls in plek gehad vir inkopiegangers se veiligheid en sal voortgaan daarmee,” sluit die verklaring af.

