Gevalle soldate by Heldeakker in Vanderbijlpark vereer
Dié spesiale huldeblyk het onder meer die neerlê van proteas aan die voet van die gedenknaald (die Heldeakker) ingesluit.
VANDERBIJLPARK – Gevalle soldate is nie vergete nie! Ops White Dove het Saterdag eer betoon by die gedenknaald (die Heldeakker) in die Vanderbijlpark Begraafplaas.
Die herdenking is deur SAWV Eenheid Byekorf se leiers gereël om soldate te vereer wat die hoogste prys betaal het.
Dit het ook erkenning gegee aan die mans en vroue wat opofferings gemaak en hul land met trots gedien het. Sowat 25 mense het die verrigtinge ondersteun.


Program
Eenheid Byekorf se voorsitter, Julio Agrella, het almal verwelkom, waarna die provinsiale kapelaan, Koos van Zyl, die diens met skriflesing en gebed gelei het.
Die Eenheid se sersant-majoor, Cobus Cato, was die seremoniemeester. Almal het die oorlogstories wat hy gedeel het terdeë geniet.
Frik van Niekerk, Visie-Voorsitter van Sektor 1.4 Wilger, het daarna die seremonie gelei.
Baniere is vertoon en die simboliek van proteas is voorgelees voordat die Laaste Taptoe geklink het.
Twee minute stilte is gevolg deur die oggendsinjaal en die voorlees van die Ode van Herinnering.
Daarna het die protea-neerlegging gevolg.
Alle teenwoordiges het die kans gekry om ’n protea aan die voet van die naald neer te lê. Elke deelnemer kon só persoonlik hulde bring.
Voorsitter Agrella het ’n spesiale protea ter ere van die “Onbekende Soldaat” neergelê.



Bedankings
Die eenheid bedank African Touch Florist wat die proteas geborg het, asook vir Charlene Agrella wat die handgemaakte proteas voorsien het wat as versierings gebruik is.
Die eenheid het ook hul dank uitgespreek teenoor AfriForum Vanderbijlpark wat die Heldeakker skoongemaak het vir die herdenking.
Gesellige kuier
Na afloop van die sing van die volkslied, en bedankings is die verrigtinge afgesluit.
Die ondersteuners het daarna heerlik saam gekuier en gebraai by die Portugese Klub in Vanderbijlpark.
Die herdenkingsprogram se woorde het die doel van die byeenkoms saamgevat:
“Ons onthou. Ons eer. Ons vergeet nie.”

