Sasolburg groet ‘n steunpilaar
Sagrys de Wet was iemand wat altyd bereid was om sy medemens te help, maak nie saak watter tyd van die dag of nag dit was nie.
Soos gepubliseer in Vaalweekblad van 10 Junie 2020
Retha Fitchat
SASOLBURG. – ‘n Bekende in die dorp se Gemeenskapspolisiëringskringe, Zacharias de Wet (41), se vrolike glimlag sal nie weer gesien word en sy gesellige lag nie weer gehoor word nie. Dié gewilde steunpilaar in Sasolburg se gemeenskap is op 26 Mei onverwags in sy slaap oorlede nadat hy die vorige dae knieserig gevoel het.
Of jy hom geken het as Zacharias, Zach of Sagrys, almal is dit eens dat hy een van die mees geliefde inwoners van die dorp en “almal se vriend” was. Dié lewenslustige man wat maklik geglimlag het en altyd gereed was om ‘n grap te vertel, het Sasolburg soos die palm van sy hand geken omdat hy so graag patrollie gery het. Sagrys het sedert 2009, toe CPF Sasolburg Patrolleerders begin is, gereeld aan patrollies deelgeneem om sy mede-inwoners teen misdadigers of moontlike gevare te help beskerm.
Volgens sy ma, mev. Naomi de Wet, was Sagrys so twee jaar oud toe hulle van Parys na Sasolburg verhuis het. Hy het hier grootgeword en aan Leeuwspruit Primêr en HTS Sasolburg skoolgegaan voordat hy as ‘n motor-elektrisiën gekwalifiseer het. Hy het sy eie onderneming bedryf maar moes op 27 Maart sy deure sluit toe die staat van inperking afgekondig is.
Buiten sy betrokkenheid by die Sasolburg Patrolleerders was hy deur die jare ook intensief by sektorpolisiëring betrokke, onder andere as voorsitter of ondervoorsitter van Sektor 1, en het ook die twee kinderhuise op die dorp op verskeie maniere ondersteun en onder sy vlerk geneem.
Sagrys het jare lank aan asma gely en het in die dae voor sy dood siekerig gevoel, sê sy ma. Sy sou hom op 26 Mei dokter toe neem en het hom die oggend, toe sy niks van hom hoor nie, gebel om seker te maak hy is betyds wakker. Hy het nie sy foon beantwoord nie en sy het na sy huis, waar hy alleen gewoon het, gery om te gaan kyk dat alles reg is. Haar grootste vrees is bewaarheid toe sy hom dood in sy bed gevind het. Sagrys het deur die loop van die nag in sy slaap aan hartversaking gesterf.
“Hy was iemand wat altyd bereid was om sy medemens te help, maak nie saak watter tyd van die dag of nag dit was nie. Hy het altyd gelag en was lief om poetse te bak en grappe te maak, maar bo alles was hy ‘n kind van God en het gestaan vir dit waarin hy glo,” sê mev. De Wet.
Uit die lang lys boodskappe van simpatie op Facebook, is dit duidelik dat Sagrys baie gemis gaan word.“Hy was altyd daar vir almal,” sê Anneke Hanekom Van Schoor. Gert Strauss sê Sagrys was altyd vriendelik en beleefd en hoewel hy soms “stout” was met sy grappe en poetse, het hy respek vir sy medemens gehad en ander altyd hoër as homself geag. “Hy het ‘n wonderlike geaardheid gehad. Sy geliefdes kan trots wees op die rol wat hy in ander se lewens gespeel het. Met skok gaan ek hom mis, voorwaar ‘n voorbeeld vir baie.”
Weens die inperking is ‘n roudiens vir Sagrys op 29 Mei in sy ouers se tuin gehou, waar sy familie en vriende hul laaste eer aan hom kon bewys. Hy word oorleef deur sy ouers, George en Naomi de Wet, sy suster, ook Naomi, en haar twee seuns, De Wet en Henriko, van wie Sagrys die peetpa was.
