Local newsNews

Baba Azaria – hartoperasie wag na geboorte

Om te hoor jou baba gaan met 'n hartdefek gebore word, is 'n skok, maar gelukkig is daar hoop vir baba Azaria Leah Meyer.

VANDERBIJLPARK – Jeanré en Pieter Meyer se vreugdebeker het oorgeloop toe hul uitgevind het dat hul eersteling op pad is. ʼn Dogtertjie wat hul Azaria Leah noem.

Jeanré was 18 weke swanger toe ʼn sonar opgetel het dat daar moontlik ʼn probleem met die kleinding se hart kan wees. Hulle is na ʼn spesialis en van daar af na ʼn kardioloog verwys. Nog skanderings het bevind dat die baba Truncus Arteriosus het.

Dit beteken dat haar hart net een groot bloedvat het waar daar normaalweg twee moet wees, en dat daar ’n gaatjie tussen die twee onderste hartkamers is. Die goeie nuus is dat daar ‘n spesialis is wat sal kan opereer sodra Azaria gebore is.

Baba Azaria se ma, Jeanré sê sy is tans baie bedrywig. Foto: verskaf Jeanré Meyer

Ongelukkig is dit ʼn duur operasie en Azaria sal lank in die neonatale intensiewe sorgeenheid moet deurbring. Weens omstandighede buite die gesin se beheer, het hulle nie tans ʼn mediesefonds nie, alhoewel Azaria wel op haar ouma se mediesefonds geregistreer is.

Die geregistreerde nie-winsgewende organisasie, UBEE4ME het intussen van die Meyers se nood gehoor en ingespring om te help waar hul kan. Indien daar mense is wat kan help met ʼn donasie, is die bankbesonderhede:

Rekeningnaam: U BEE 4 ME NPC

Rekeningnommer: 1234 826 054

Bank: Nedbank

“Azaria moet in die hospitaal gebore word waar die spesialis is. Ek sal drie dae na die bevalling in die hospitaal wees, maar Azaria sal vir sowat twee weke in die neonatale intensiewe sorgeenheid deurbring om aan te sterk.

“Sodra sy sterk genoeg is, sal die operasie gedoen word. Ek sal elke dag Alberton toe en terug moet ry om haar te voed. Daar gaan baie onkostes wees,” vertel Jeanré.

Sy sê hulle kan nie wag om hul wonderwerkie vas te hou nie. “Sy is baie bedrywig op die oomblik. Ons leef in gebed en hoop nie sy besluit om vroeër haar verskyning te maak nie.” Jeanré is tans 31 weke swanger en die keisersnee is geskeduleer vir 9 November.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button