Local newsNewsNews

Liewe Persoon: Quality Street-tjoklits en die groot verlang

Ek verlang vandag na ver plekke en onbekende mense. Na eenvoudiger tye. Ek skryf dié skielike hunkering toe aan die weer. Ons tande kletter behoorlik hier langs die Vaalrivier. En soos jy maar al te goed weet, loop verlange altyd hand-aan hand met ‘n ongekende en ongetemde eetlus – amper soos peanut-butter en stroop.

Dit laat my terugdink aan die dag toe ons in matriek – nou graad 12, ons laaste wiskunde vraestel geskryf het. Ons het in die Moedergemeente se kerksaal geskryf. Ek is tot vandag toe nie regtig seker waarom die skoolsaal nie sou deug nie. Miskien het die skoolhoof gereken ons siele sou tot bedaring gebring kon word, so in die skadu van die kerkklok. Die vraestel was onsmaaklik. Dit was soos daardie oomblik wanneer jy jou hand in ‘n pakkie Quality Street-tjoklits steek en sowaar die (enigste en slegste) donkersjokolade met die lemoengeursel uitkies. Dis mos nie hoe tjoklits moet proe nie!
Anyway. Die vraestel was gestel vir vier ure (!) en ek het my daardie dag amper so lig soos Kate Moss gesweet. Jy loer na die eerste vraag en besef dat jy nie ‘n clue het wat om te doen nie. Dan blaai jy angstig na die tweede vraag, net om totaal ontnugter te word: jy het die eerste vraag se antwoord nodig vir die tweede vraag! O, die ellende!
In ‘n desperate poging om net iets te probeer antwoord, takel jy die monkey puzzle… en net daar besef jy dat jy met sakrekenaar en al nooit op dié monkey se standaard sal wees nie.
Toe ek en die Juffrou (my tweelingsuster) en die res van die matriekklas daardie middag uit die kerksaal strompel was dit kompleet asof ons met ‘n doodstyding geworstel het. Ek was vas oortuig dat my universiteitsaansoek nou na die maan is en dat ek vir die res van my lewe iets sou moes smous (want sien, ek kan nie naaldwerk doen nie en my adminvaardighede laat veel te wense oor). Die Juffrou was ook effens bleek. Sy het haarself egter daaraan getroos dat haar aansoek om verdere studie nie van haar vermoë om ko-binnehoeke te bereken, of die bepaling van die omtrek van ‘n sirkel, afgehang het nie. Die hoofmeisie was in trane. Die kaptein van die eerste rugbyspan wou terstond skool opskop en sy appyship op die myn gaan doen. Hy kon immers nog steeds rugby speel – al is dit nou vir die myn se klub (waar jy gewoonlik die wedstryd én die fight verloor).
My ma het ons ingewag en het sommer dadelik ons hande gevat en ‘n gebedjie opgestuur. Vir vrede in ons gemoed. Vir helderheid van verstand (die res van die eksamen was immers nog op hande). Vir dankbaarheid (dat ons vir eers van Sin, Cos en Tan kon vergeet). En net daar haal sy ‘n mandjie uit die kattebak. ‘n Mandjie vol trooskos: biltong, zoo-koekies, Simba-tjips en vir elkeen ‘n Bar One. Sy het die kar aangesit en ons het gery. In stilte. Al etende. Teen die tyd wat ons by die huis opgedaag het, was ons sorge al amper iets van die verlede.
Ek verlang vandag na daardie mandjie. Na my ma. Na die kerksaal en bowenal, die wete dat ek vir altyd verlos is van die Wiskunde-wurggreep.
Ek wil ‘n kans waag, en weer my hand in ‘n pak Quality Street-tjoklits steek. Ek wéét ek sal die Turkish Delight kies… of nog beter, die Caramello-toffie!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button