Data- en konnektiwiteithulp vir NWU-studente
Ooreenkomstig ’n vorige onderneming deur die Noordwes-Universiteit om tydens die Covid-19-pandemie sy studente van data en toestelle te voorsien, sê die instelling dat hulle goeie vordering maak. Volgens die instelling het hulle tot dusver sowat R19 662 689, op die aankoop van 3 534 skootrekenaars, en ’n bykomende R2 303 433 op maandelikse datapakkette vir kwalifiserende studente bestee. Laasgenoemde is ’n bedrag wat waarskynlik gaan afneem, aangesien studente wat na die kampusse terugkeer, nie meer data gaan nodig hê nie, maar die Wi-Fi-verbindings op die NWU-kampusse sal kan gebruik.
Hierdie inisiatief was die gevolg van ’n opname wat onder NWU-studente gedoen is, van wie ʼn groot hoeveelheid aangedui het dat hulle ’n dringende behoefte aan toestelle en toegang tot data ervaar.
Op 23 Junie is amper 1 700 skootrekenaars reeds met sukses per hand by die studente afgelewer. Ten minste 23 267 studente het reeds voordeel getrek uit die data wat aan hulle verskaf is, en sommige het meer as een keer data ontvang.
Die NWU sê hoewel die verspreiding van skootrekenaars vroeg in Mei reeds begin het, die proses gekniehalter is deur die uitdagings om die korrekte adresse te bevestig van ontvangers wat kwalifiseer en om die studente in afgeleë gebiede op te spoor. Die persoonlike omstandighede van sommige studente het intussen ook verander en hulle het dus nie meer skootrekenaars nodig gehad nie.
Die NWU is een van die eerste instellings vir hoër onderrig om ná president Cyril Ramaphosa se aankondiging oor die staat van inperking aan die einde van Maart hierdie jaar aanlyngebaseerde onderrig en leer te konseptualiseer en te implementeer.
Aanvanklike projeksies het aangedui dat ten minste R30 miljoen nodig sou wees om aanlyn onderrig en leer by die NWU in werking te stel, hoewel verwante koste – soos verwag is – die hoogte ingeskiet het. Dit het die NWU genoop om vanaf 1 Mei ’n NWU Covid-19-reaksiefonds te loods om bykomende fondse en voorafgebruikte skoot- en tabletrekenaars in te samel.
Die NWU sê hy maak ook op die integriteit van studente staat om te verseker dat skootrekenaars en data die kwesbaarstes onder sy studentegemeenskap bereik.

