Wintermaande hou huisbrand-gevaar in
Daar is elke jaar tydens die wintermaande huisbrande. Weens die koue word gasverwarmers, kaggels, elektriese verwarmers, paraffienstowe, elektriese komberse en meer ingespan. Daar was reeds twee huisbrande in die Vaal (Vereeniging en Vanderbijpark) en drie in Parys in minder as twee maande, en dit is net die huise waarvan ons bewus is.
Paraffienstowe en kerse is steeds die hoofoorsaak van brande in informele nedersettings, terwyl elektriese- en gasverwarmers meestal vir brande in ander woongebiede verantwoordelik is.
“Een van die grootste bekommernisse rondom huisbrande is dat mense dink dit sal nie met hulle gebeur nie,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker. “Dit kan as jy net vir ‘n oomblik nie op jou hoede is nie. Dit neem net een gloeiende kooltjie naby ‘n vlambare item, een foutiewe gaspyp of draad om deel te word van die statistieke.”
Virseker deel die volgende veiligheidswenke:
- Vertrou die kenners: Maak seker dat alle verhittingstoestelle deur die SABS goedgekeur en, waar toepaslik, deur ‘n geakkrediteerde diensverskaffer geïnstalleer is.
- Lees die handleiding en kom dit na: Dis noodsaaklik om toestelle binne die limiet, soos vasgestel deur die vervaardiger, te gebruik. Om byvoorbeeld ‘n toestel op maksimum hitte te stel vir verlengde periodes, om dit nie op ‘n gelyke oppvervlak te plaas nie, om dit te skuif terwyl dit aan is of om ‘n toestel vir langer te laai as wat aanbeveel word, kan ‘n ernstige risiko inhou.
- Bedrading- en pypinspeksie: Maak seker dat alle toestelle, sowel as hulle pype en bedrading, in goeie en veilige, werkende toestand is. Neem gasbottels gereëld na jou naaste gashandelaar om hulle na te gaan vir lekplekke. Dit sluit gasbottels vir verwarmers, braaie en stowe in.
- Hou ‘n ogie: Moet nooit verwarmers, elektriese komberse, kerse of stowe sonder toesig laat nie. Wees veral versigtig voordat jy in die bed klim en maak seker dat alle hittebronne afgeskakel is.
- Oorlading: Moet nooit ‘n kragbron oorlaai nie. Skakel alle toestelle wat nie gebruik word nie af en prop hulle uit.
- Ventilasiewys: Maak seker dat verhittings-, elektriese- en elektroniese toestelle in ‘n ruim en goed-geventileerde spasie is om oorverhitting te voorkom. Moenie verwarmers met klere of ander materiaal wat jy graag wil warm of droog maak bedek nie.
- Vuur eerste, gas tweede: As jy ‘n gasverwarmer of -stoof het en dit self moet aansteek, maak seker dat jy die vuurhoutjie of aansteker eerste aansteek, voordat jy die gas oopdraai.
- Klottervry: Beperk klotter (clutter) tot ‘n minimum – beide binne en om jou huis – omdat dit brandstof vir ‘n vuur kan wees.
- Rookslim: Installeer rookverklikkers in jou woning, indien moontlik.
- Hulp, ‘n armlengte ver: Hou ‘n brandblusser byderhand, veral naby die kombuis en ander areas waar hittebronne gereëld ingespan word. Maak seker dat jy weet hoe om dit te aktiveer en te gebruik.
- Noodplan: Maak seker dat uitklinkskakelaars en afsnykleppe in ‘n goeie, werkende toestand is. Hou ook alle nooddiens-kontaknommers byderhand en moenie wag tot ‘n vuur buite beheer is voordat jy die nooddienste kontak nie.
“Wanneer ‘n ramp jou wel tref is dit altyd belangrik om eerstens te onthou dat jou lewe meer belangrik as enige besitting is, en tweede, dat goeie, omvattende versekeringsdekking ononderhandelbaar behoort te wees,” sluit Coetzee af.
