News

Na 4 weke is Drie Riviere-kruising weer oop

Die heropening van dié besige kruising is met sigbare verligting en opgewondenheid deur motoriste en plaaslike inwoners en besighede verwelkom.

VEREENIGING – Ná vier weke van intensiewe ingenieurswerk is die kruising van Kliprivierweg en Duma Nokweweg in Drie Riviere heropen vir verkeer. 

Dit merk die voltooiing van ‘n grootskaalse rehabilitasie- en herbou-intervensie op een van die gebied se belangrikste vervoerroetes.

Die projek het noue samewerking tussen die munisipaliteit se paaiedepartement, ingenieurs en die aangestelde kontrakteur vereis. 

 Vir die Uitvoerende Burgemeester, Hassan Mako, verteenwoordig die voltooiing van die padprojek meer as net die heropening daarvan.

Die Uitvoerende Burgemeester van Emfuleni, Hassan Mako, het die kruising oop verklaar. Fotos: ELM

“Daar kan nie van inwoners verwag word om die las van ongerief vir ‘n onbepaalde tyd te dra wanneer infrastruktuur herstel moet word nie,” sê Mako.

“Inwoners moet by die werk uitkom. Besighede se klante moet hulle te bereik. Nood- en ander noodsaaklike dienste het betroubare roetes nodig. Elke addisionele dag van onnodige ontwrigting het ‘n impak op mense se bestaan en daaglikse lewens.”

Dit was te midde van hierdie begrip dat die rehabilitasiewerk met dringendheid aangepak is, terwyl die ingenieursstandaarde gehandhaaf is wat nodig is om te verseker dat die munisipaliteit nie net paaie lap nie, maar infrastruktuur lewer wat gemeenskappe op ‘n volhoubare wyse kan dien.

Nadat ‘n verslag van die paaiedepartement se tegniese span, ingenieurs en die kontrakteur ontvang is wat die voltooiing van die werk bevestig het, het Mako die kruising amptelik oop vir verkeer verklaar.

Daar is ook nou beter beligting snags by die kruising.

Die kruising se beligting is ook verbeter met ‘n hoëmaslig wat geïnstalleer en operasioneel is.

Dit bied nou snags beter sigbaarheid en ‘n veiliger omgewing vir motoriste en voetgangers.

Die verkeerslyne op die pad na die kruising is ook weer duidelik sigbaar.

“Groot infrastruktuurprojekte vereis onvermydelik ‘n mate van ontwrigting, maar dit moet tot ‘n minimum beperk word en so vinnig as moontlik afgehandel word,” is Mako se benadering.

“Ek is daartoe verbind om meer infrastruktuurprojekte van hierdie aard na gemeenskappe oor die munisipaliteit heen te bring, met ‘n voortgesette fokus op gehalte, veiligheid en spoedige dienslewering,” sluit Mako af.

Bo en onder: Kyk hoe mooi lyk die pad in die rigting na die kruising nou.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button