Harte huil oor Annie, sy was ‘n spesiale hond
Annie was bekend en geliefd onder die kliënte, besoekers en inwoners van Baxter's Bark & Breakfast. Nou is haar plekkie leeg.
MEYERTON – Deoné Longstaff het gister die hartseer nuus gedeel. Annie is oorlede. Sy was nie sommer maar net nog ʼn hond by Baxter’s Bark and Breakfast nie. Annie was die een wat gaste vriendelik by die hek ontvang het.
Sy was die hondehotel se algemene ontvangsdame, skakelbeampte en gastebestuurder. Annie se beste vriend was die hotel se onwillige butler, Morris.
Nou is Annie nie meer daar nie en Morris treur. Die twee honde het ʼn lang pad saam geloop. Ek het die voorreg gehad om vier jaar terug ʼn ‘onderhoud’ met die duo te voer.
Albei se agtergrond stories was hartseer, maar die lewe het uiteindelik ook vir hulle ʼn mooi kant gewys.
Waar presies Annie vandaan kom en hoe sy haar eerste sowat ses maande deurgebring het, weet niemand nie. Haar opgeskrewe geskiedenis begin die dag toe Yvette Wilde haar langs die pad opgetel het.
Dit was in 2019. Sy was in ‘n tref en trap ongelukkig betrokke. Haar agterbeen was sleg gebreek en die voorste se ligamente was vermoedelik af.
Yvette het vir Deonè Longstaff geskakel en gesê sy sal die hond moet laat uitsit, maar toe sy Annie op die tafel by die veearts neersit het sy haar hand gelek.
Weer het Yvette geskakel en gevra of Deonè-hulle na Annie sal kan kyk tot sy weer op die been is. So gesê, so gedaan.
Aan die begin, met een been in gips en poot in verbande was Annie nie die vriendelikste van honde nie. Stelselmatig het sy begin ontdooi. Teen die tyd dat die gips afgekom het, het dit al baie beter gegaan.
Deonè moes haar gereeld optel en dra, want Annie wou nie loop nie. Dit was totdat die hondehotel ‘n jong worshondjie met die naam van Pebbles as gas gekry het. Pebbles het akkedisse gejaag en dit was nie lank nie, toe jag Annie saam met Pebbles.
“Verskeie mense het na Annie kom kyk om haar aan te neem, maar nie een het vir my reg gevoel nie,” vertel Deonè. Uiteindelik het haar man gesê sy moet maar ophou soek, hulle kan vir Annie hou.
So het Annie en Morris hul eie blou huisie met erfie in die hotel gekry. Morris is ‘n worshondkruising wat ook op ‘n dag langs die pad opgetel is. Oud en verwaarloos met baie kaal kolle op sy lyfie.
Ook Morris het sy weg na die hotel gevind om aan te sterk. Hy en Annie het dadelik maats gemaak en dit was van meet af ‘n uitgemake saak dat die twee albei permanente personeel van die hondehotel sou word.
Baxter’s gaan nie dieselfde wees sonder Annie nie.
