Twee leerlinge van Sasol Hoër het virus, skool gesluit
SASOLBURG. - Leerlinge en ouers van die Hoërskool Sasolburg is vanoggend in kennis gestel dat die skool gesluit is tot verdere kennisgewing. Twee leerlinge van die skool het positief getoets vir Covid-19.

“Die besluit is geneem in konsultasie met die Gesondheidsdepartement, sowel as die Onderwysdepartement. Ons hoop vir volkome herstel en ons gebede is met die leerlinge en hul gesinne,” lees die omsendbrief.
Die skool het meegedeel dat die skool deeglik gesaniteer sal word. Hulle het ook die ouers en leeringe versoek om kalm te bly. “Ons doen alles in ons vermoë om ‘n veilige omgewing vir almal te verseker.”
Alle persone wat in nabye kontak met die twee siek leerders was sal in kennis gestel word, waarna die nodige protokol soos voorgeskryf deur die Gesondheidsdepartement, gevolg sal word, het die skool verduidelik.
Die skool sal leerlinge en ouers laat weet sodra toestemming verkry is om die skool te heropen.
