Ligte-leesstof: ‘Ek moes maar die pap eet…’
Vaalweekblad se redaksiespan bestaan tans uit begaafde skrywers en bekroonde fotograwe waarvan Gerda Bruinette een is. Vaalweekblad wil graag na al ons lesers se behoeftes omsien, en omdat daar verskeie lesers is wat nie net altyd oor die harde nuus wil lees nie, deel onsgraag hierdie oulike skrywe in ligte luim.
Dit was in die middel 1990’s. Daardie jare was ek werksaam in die staatsdiens as kommunikasiebeampte by een van die departemente. Een van my pligte het behels om vir die adjunkminister toesprake te skryf. Sy was ‘n regte moederfiguur daar uit Ulundi se wêreld in KwaZulu-Natal.
Dring sy op ‘n stadium daarop aan dat ek ‘n funksie in die landelike gebied anderkant Ulundi moet bywoon. Bevind ek my vroeg een oggend op een van daardie vlliegtuie wat so klein is die passasiers kyk by die vooruit uit. Minister het ‘n drywer gestuur om my op die lughawe te kom haal. Tot my verbasing draai hy terug Ulundi toe. “En nou?” vra ek, en kyk weer op my papiere om seker te maak van die funksie se tyd en plek.
“Minister het gesê ek moet jou na haar huis toe vat,” trek die man skouers op.
Ons stop voor haar huis. Haar eie huis, nie een of ander ampswoning nie. Minister kom uit, sy het nog haar pantoffels aan. Nooi my in en ek kry my sit in die sitkamer. Volgende oomblik maak die huishoudster haar verskyning met ‘n bord pap. Bruin pap. Die soort waarvoor ek almelewe so kan gril. Die bord is tot oorloop volgeskep.
“Onthou nou”, het een van my kollegas nog gewaarsku, “hulle beskou dit as slegte maniere as jy nie eet wat jy voorgesit word nie.”
Daar sit ek in die hartjie van Zululand met ‘n bord vol bruinpap en ‘n adjunkminister wat so in die verbygaan om haar skoene te kry my aanmoedig met ‘n “eat up, it’s going to be a long day.” Ek proe so ‘n versigtige proe, en ‘n surigheid slaan my tussen die oë. Ek besef hier sal ek nou vinnig moet plan sien. Gelukkig het ‘n vol suikerpotjie die bord pap vergesel. Ek gooi die suiker dat dit ‘n kraaklaag op die pap vorm. Haal ‘n slag diep asem en begin toe lepel vir lepel die pap sluk. Ek probeer om nie te proe nie. Skep, koud blaas, sluk. Skep, koud, blaas, sluk. Uiteindelik is die bord leeg. Ek is soet tot agter my ore. Die huishoudster maak haar verskyning. “Thank you,” sê ek. “It’s good for you”, glimlag sy, “I will bring you some more.” Ek beduie verwoed dat een bord pap meer as genoeg is om my deur die dag te kry. Sy skud haar kop in totale ongeloof. Ek weet nie hoe ek vir haar ondervoed kon gelyk het nie. Maer is ek nie nou nie en maer was ek beslis ook nie toe nie. Gelukkig het die adjunkminister net op daardie stadium weer haar verskyning gemaak en kon ons ry, want ek was besig om die argument ten gunste van ‘n tweede bord pap te verloor!

