Ma’am Backeberg, ‘n inspirasie en rolmodel vir duisende
VANDERBIJLPARK. - Mev. Helen Backeberg, ongetwyfeld een van die kleurrykste Engels-onderwyseresse wat Suid-Afrika in die afgelope 70 jaar opgelewer het, is onlangs in die ouderdom van 92 in Vereeniging oorlede.
Mev. Backeberg, oftewel “Ma’am” soos wat duisende Vaaldriehoekse skoolkinders en universiteitstudente haar geken het, was dekades lank aan Vaaldriehoekse opleidingsinstansies verbonde. Hier het sy die jeug nie net geleer het om met selfvertroue Engels te praat en skryf nie, maar
ook ‘n liefde en waardering vir die taal by hulle aangekweek. Op haar stil, sjarmante manier het sy ook lewenslesse aan hulle oorgedra, wat hulle lewenslank kon saamneem.

Helen is in 1927 in Bloemfontein, die Rosestad, gebore. Sy was die middelkind van drie susters en het ook ‘n broer gehad, wat in die Tweede Wêreldoorlog oorlede is. Op skool was sy een van net twee dogters in ‘n klas vol seuns. Gedurende die 1940’s het sy haar BA-graad in
tale – met Engels as hoofvak – aan die Universiteit van Pretoria behaal. Nadat sy haar diploma in hoëronderwys verwerf het, het sy in 1947 op Krugersdorp begin skoolhou en in die skoolkoshuis tuisgegaan. Een van haar eerste buitemuurse take was om korfbal af te rig, en soos wat
sy later vertel het, was sy in daardie stadium seker die enigste korfbalafrigter wat nooit haar voete op die baan gesit het nie. Sy moes al die reëls self uit ‘n boek leer en tog was haar spanne altyd die kampioene!
In die vroeë 1950’s het sy na Vanderbijlpark verhuis, waar sy Engels by die Hoërskool Vanderbijlpark aangebied het.
Hier was sy aanvanklik as “Miss Kilian” bekend. Sy het haar toekomstige man, dr. Peter Backeberg, ‘n Duitse dokter wat na Suid-Afrika geëmigreer het, deur gemeenskaplike vriende ontmoet en hulle is in 1958 getroud.
Ma’am het 33 jaar op hul hoewe langs die Vaalrivier gewoon, waar haar kinders, Tessa en Werner, grootgeword het. (Dr. Backeberg is in 1977 oorlede). Volgens Tessa het haar ma altyd ‘n besondere liefde vir tuinmaak gehad en dit baie geniet om in haar pragtige roostuin te werk. Buiten haar liefde vir blommerangskikking, het sy ook graag gelees. Gedurende daardie jare het sy ‘n pos by Hoërskool Transvalia aanvaar, waar sy
dekades lank Engels aangebied het.
Getrou aan haar oortuiging dat ‘n mens altyd moet aanhou leer, het Ma’am in die laat 1980’s besluit om verder te studeer en haar honneursgraad in Engels met lof aan die destydse Potchefstroomse Universiteit behaal. Sy het daarna Engels aan die Vista Universiteit en die Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus gedoseer totdat sy in 2000 finaal afgetree het.
In haar jonger jare was Ma’am ‘n kranige aktrise wat onder andere saam met Jan Cronjé van “So Maak Mens”-faam, getoer en toneelgespeel het. Sy het in haar jong dae ook die hoofrol in vele toneelopvoerings vertolk, onder andere in “Snow White and the Seven Dwarfs”, en later ook in die nasionaal-bekende toneeltreffer, “Ek onthou vir Mamma”. Sy was deur die jare ook beoordelaar en afrigter van talle toneelstukke.
Ma’am het die laaste vier jaar van haar lewe in Die Palms aftree-oord in Drie Riviere, Vereeniging, gebly. “In die eerste maande van die inperking kon ons geen kontak met haar hê nie. Die eensaamheid het letterlik haar hart gebreek…. sy is op 19 Julie in die ouderdom van 92 jaar aan hartversaking oorlede,” sê Tessa.
Ma’am word oorleef deur haar kinders en vier kleinkinders. Die familie beplan om later ‘n troosdiens te hou om die lewe van dié geliefde vrou, wat ‘n groot inspirasie en rolmodel in menige kind se lewe was, te vier.
