VANDERBIJLPARK – Dit gaan ’n ridder op ’n perd verg om die Vaal Kings se Amerikaansevoetbalspan te onttroon.
Dit is op 20 September op Old Vaaltonians se velde weer onderstreep toe die Vaaldriehoekers die Pretoria Battlehawks met 42-0 afgeransel het.
Die Vaal Kings is volgens die span se rekord die afgelope drie jaar onoorwonne, en vier van die span se spelers het onlangs ook op internasionale vlak presteer.
Tiaan Rautenbach, Dyllan Smit, Zandre van der Merwe en Jovan Krekic, almal onderwysers aan Hoërskool Driehoek, het onlangs Suid-Afrika by die Afrika-kampioenskappe in Kenia verteenwoordig.
Die vier was deel van die Suid-Afrikaanse American Flag Football-span wat in Nairobi aan die NFL Flag Africa Continental Championship deelgeneem het.
Rautenbach het ’n verdere eer ontvang toe hy as kaptein van die Suid-Afrikaanse span aangewys is. Suid-Afrika het die mansafdeling met ’n bronsmedalje afgesluit nadat die span Kenia met 19-13 in die wedstryd om die derde plek geklop het.





Suid-Afrika, Kenia, Nigerië, Ghana en Egipte het aan die kompetisie deelgeneem. Die vier Driehoek-onderwysers se prestasie op internasionale vlak kom nadat hulle reeds ’n belangrike rol in die sukses van die Vaal Kings speel.
Rautenbach is die span se quarterback en was een van die dryfvere agter die ontwikkeling van Amerikaanse voetbal in die Vaaldriehoek.
Die Vaal Kings het in 2024 die eerste amptelike vyf-aan-’n-kant Amerikaanse voetbalwedstryd in die Vaaldriehoek op Hoërskool Driehoek se velde gespeel.
Hulle het die Pretoria Brahmans met 52-0 verslaan. Nou, twee jaar later, duur die Kings se segetog voort, met die Battlehawks wat Sondag in die 11-kode ook geen antwoord gehad het nie.
*Die uitspele van die liga vind môre-oggend om 10:00 by Old Vaal Tonians plaas.
