Local newsNewsNews

Motorlisensie hernuwing relatief vinnig en pynloos

Om jou voertuig se lisensie te hernu kan redelik pynloos gebeur met goeie beplanning, baie geduld en ‘n bietjie geluk aan jou kant…

VANDERBIJLPARK. – Net die gedagte daaraan om ‘n motorlisensie te hernu kan enige een summiere hoofpyn gee. Tog, met so ‘n bietjie beplanning kan die proses redelik pynloos verloop. My geliefde, Yankee en Ma se Duitser se lisensies het op 31 Augustus verval. Om op die einde van die maand te gaan, het ons besluit, gaan dalk te besig wees en gelukkig is daar mos die 21 dae grasie tydperk.

Ma het wel in verlede week by die Poskantoor in die dorp se hoofingang vir die regte vorms gevra om solank by die huis in te vul. Die sekuriteitswag was baie vriendelik en het vir haar twee kopieë gegee. Jy benodig die vorm as jy nie die Aanslag vir Hernuwing van Motorvoertuiglisensie in die pos ontvang het nie. Ons het in 2018 laas sulke briewe ontvang en toe was dit in allegeval maande na ons reeds lisensies uitgeneem het, die dat ons weet van die wit vorm wat ingevul moet word.

Ek het vooraf op www.licenserenewal.co.za gaan loer om vas te stel wat die lisensiepryse sal wees. Die webtuiste gee alles in tabelvorm aan en al waarvan jy seker moet wees is in watter gewigskategorie (Tarra) jou voertuig val en in watter provinsie die motor geregistreer is. Die tariewe wat aangedui is sluit nie die hanteringsfooie in nie. Gauteng se hanteringsfooie is steeds R72 per lisensie.

Lisensies by die Poskantoor in die dorp kan slegs met kontant betaal word. Die buite ry vir lisensies is by die hoofingang teen die muur en loop parralel met die SASSA pensioen ry. Die R350-ry is die ry wat reg rondom die gebou staan. Sit maar bietjie sonbrandroom op anders gaaan jy dalk ‘n masker op jou gesig inbrand. Ons was om 09:45 daar en het 15 min in die son gestaan alvorens ons tot bo op die stoep beweeg het en ‘n koeltekol gekry het. Hulle laat slegs 40 mense op ‘n slag in die Poskantoor toe. Wees rustig en moenie reg voor die uitgang deur staan nie.

Luister bo die geharwar van stemme as die sekuriteit jou ry se mense nader roep oor presies hoeveel van daardie ry op ‘n slag kan ingaan. Jou koors word gemeet en hande gespuit wanneer jy die gebou ingaan. Maak dan dadelik ‘n skerp draai regs. Die binne ry vir die hernuwing van lisensies begin voor toonbank 4 en staan voor die tafel met die hokkies waarin die vorms altyd was verby.

Dit is die kortse ry, so wees dankbaar. Al die ander rye in die gebou is so lank die mense moet sit. As jy eers binne is beweeg die ry heelwat vinniger as buite. Wanneer dit jou beurt is, gee die ingevulde wit vorm, ‘n afskrif van jou ID (hoef nie gesertifiseer te wees nie) en jou ID-boekie/kaart vir die persoon agter die toonbank. Dan is dit net 1… 2… 3 en jy het jou ID-boekie weer in jou sak en die nuwe papier met jou lisensieskyfie in die hand.

Ons was weer om 10:32 by my motor wat agter die Poskantoor in die koelte parkeer was. Het wel opgemerk dat die buite lisensie ry heelwat langer was met ons uitkomslag as toe ons self in die ry gestaan het. Probeer dus om voor 10:00 in die ry te wees dan is die staan nie so erg lank nie en die son nog nie middaguur rooibrand warm nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button