’n Boer maak ‘n plan vir sy bruid
VANDERBIJLPARK. - Dit is nou nie hoe die Van Tonder-egpaar gedink het hulle gaan hul 68ste huweliksherdenking vier nie, maar ‘n boer maak ‘n plan vir sy bruid. Nick en Sus se paaie het in 1950 op ‘n plaas in Frankfort gekruis en dit was liefde met die eerste oogopslag. Hulle het op 30 Augustus 1952 trou aan mekaar belowe. Oupa Nick (88) en Ouma Sus (88) sou dus onlangs hul 68ste huweliksherdenking vier.
Elsje Vermeulen
Daar is met groot afwagting na dié dag uitgesien, maar die spesiale dag het ongelukkig nie verloop soos beplan nie. Ouma Sus moes weens mediese redes op 26 Augustus in die Midvaal-hospitaal opgeneem word. Weens die Covid-regulasies het dit gelyk of Ouma hierdie jaar se herdenking alleen sou moes deurbring. Oupa Nick het egter besluit niks gaan in sy pad staan om die groot dag met sy vrou te deel nie. Hy het met die hospitaal se personeel gereël vir ‘n kort kuiertjie op die dag. Op 30 Augustus kom die oproep van die hospitaal: Oupa moet teen 11:00 daar wees en hulle het met die kombuis gereël dat hy om 12:00 middagete saam met sy bruid kan geniet.

“Namens Oupa, kinders, kleinkinders en agterkleinkinders wil ons net baie dankie sê aan Midvaal-hospitaal dat hulle onder die huidige omstandighede die dag moontlik en spesiaal gemaak het,” sê die gesin.
Oupa Nick en Ouma Sus woon reeds sedert 1985 in dieselfde huis in Vanderbijlpark. Oupa het vir 35 jaar by die destydse Yskor (ArcelorMittal) gewerk en Ouma was ‘n tuisteskepper. Nadat Oupa afgetree het, geniet die egpaar reeds die afgelope 28 jaar hul goue jare saam. Wat is hul wenresep vir soveel gelukkige huweliksjare: “Moet nooit kwaad vir mekaar gaan slaap nie.” Danksy dié goue reël wat hulle gevolg het, geniet hulle dit nog om saans 7de Laan te kyk terwyl hulle hande vashou en Oupa kort-kort ‘n ou soentjie of drukkie steel … net om te wys sy liefde vir sy bruid is steeds so sterk soos 68 jaar gelede. Die egpaar is geseënd met vyf kinders, waarvan hul oudste Johan (Ouboet) van Tonder (66) skielik op 14 Maart aan ‘n hartaanval oorlede. Hulle het ook 14 kleinkinders en 22 agterkleinkinders.

