ELM-werker sterf gru-dood in rioolput
VANDERBIJLPARK. - Die Rietspruit-rioolaanleg is lank reeds ‘n doring in die vlees vir inwoners in die omtrek, maar nou sal daar indringend na die stand van sake gekyk moet word nadat ‘n werknemer in ‘n gru-ongeluk daar gesterf het. Tsietsi Mmoloki was Saterdagmiddag alleen aan diens in ‘n 8m diep rioolput. Dit was sy daaglikse taak om ‘n rioolsif skoon te maak, maar Saterdag het dit sy lewe gekos.
Elsje Vermeulen
Daar word vermoed dat terwyl hy besig was om die sif in die put skoon te maak, daar ‘n rioolvloed was. Daar kan nie gesê word of hy sy kop tydens die rioolvloed gestamp het en hy sy bewussyn verloor het, of net eenvoudig in die riool verdrink het nie. Hy kon ook deur metaangas oorval gewees het. Daar is eers 12 ure later onraad vermoed toe die tweede skof se werker vir diens opgedaag het en Tsietsi nie gevind kon word nie. Die brandweer is ontbied om die rioolpypleiding uit te pomp. Dit het glo sowat agt ure geneem om die rioolwater uit te pomp voordat Tsietsi se lyk verwyder kon word.
Plaaslike Raadslid Gerda Senekal het Dinsdagoggend in ‘n onderhoud met Vaalweekblad gesê dat daar volgens veiligheidsmaatreëls altyd twee mense saam aan diens behoort te wees. Daar is ook kommer oor die persoonlike beskermende toerusting (PPE’s) vir werkers.
“Die totale ineenstorting van die Emfuleni-munisipaliteit se infrastruktuur is die gevolg van die stadsraad se onvermoë om voorkomende instandhoudingswerk te doen,” sê Senekal. Tsietsi se gru-dood is die tweede van dié aard. ‘n Werker by die Leeukuil-rioolwerke net buite Vereeniging het verlede week in ‘n soortgelyk voorval gesterf.
Rdl. Senekal het afgesluit met die woorde dat wanadministrasie en politiese-binnegevegte hiervoor blameer moet word. Die Emfuleni-plaaslike owerheid sal verantwoording moet doen vir Tsietsi se dood.
