Na donker wêreld van pyn is daar nou net lig vir Quinnitta
VANDERBIJLPARK. - Vaalweekbladlesers het Quinnitta Gunter in 2017 ontmoet toe sy as 10-jarige in ‘n skemerwêreld van pyn en frustrasie geleef het.
Daar was ‘n opvallende pyntrek op haar gesiggie en sy was duidelik erg gespanne oor ‘n naderende operasie om haar regteroog te verwyder. Dit is nou drie jaar later en baie lesers wonder seker ook wat intussen van Quinnitta geword het. Vaalweekblad het onlangs gaan inloer om uit te vind of dié hartseer verhaal ‘n goeie uiteinde gehad het.
Dit het inderdaad! Quinnitta is vandag ‘n pragtige tiener wat die lewe met albei hande aangryp. Maar lees eers watter uitdagings dié dapper meisie in die afgelope jare moes oorkom: “Quinnitta was in graad 3 toe haar onderwyser ons die eerste keer ingeroep het om oor haar swak akademiese vordering te praat,” vertel haar ma, mev. Shalmyn Gunter.
“Sy het eintlik reeds van graad 1 af gesukkel om met die skoolwerk by te hou, maar dit was eers in graad 3 dat haar onderwysers ons aangeraai het om ‘n oogtoets te laat doen. Na verskeie toetse is vasgestel dat sy blind is in haar regterogie. Teen die einde van 2015 het sy ‘n bril met voorgeskrewe lense ontvang en haar akademiese vordering het drasties verbeter “Gedurende 2017, toe sy 10 was, het ‘n klasmaat gesukkel om haar penneblik oop te maak.

Dit het skielik weggeskiet en Quinnitta per ongeluk op haar blinde ogie getref. Haar oog het dieselfde middag onophoudelik begin traan en sy was in ontsettende pyn. “’n Oftalmoloog het voorgestel dat sy vir ‘n sonar gaan omdat ons ‘n geskiedenis van kanker in die familie het. Na verdere konsultasie en die sonar is Quinnitta na ‘n retinale chirurg verwys, wat vasgestel het dat sy nie ‘n retina het nie en dat die hou teen haar blinde ogie skade veroorsaak het wat ook die oorsaak van die voortdurende inflammasie was. “Haar oog is met kortisoon behandel, maar was daarna uiters ligsensitief en baie pynlik. Buiten dat Quinnitta heeltyd in pyn was, het haar skool haar ook afgeraai om langer aan haar lieflingsportsoorte, netbal en hokkie, deel te neem uit vrees vir verdere beserings.
Dié nuus het Quinnitta erg ontstel. “Gedurende Augustus 2017 het haar pyn so ondraaglik geword dat haar konsentrasie en skoolwerk opnuut daaronder gely het. Quinnitta het haar letterlik in ‘n wêreld van donkerte en pyn teruggetrek. Omdat haar oog geen lig kon verdra nie, het sy in die middae na skool haar gordyne toegetrek en geslaap tot die son sak. Sy het haarself begin isoleer van alles en almal en toenemend teruggetrokke en selfbewus begin raak.
Ons bekommernis oor haar oog en haar gemoedstoestand het by die dag vererger,” onthou Shalmyn. Met haar volgende afspraak by die oftalmoloog moes Quinnitta en haar ouers hoor dat die oog nie meer op die behandeling reageer nie. Die spesialis se mening was dit beter sou wees om haar blinde ogie te laat verwyder. Dit was ‘n groot skok vir Quinnitta sowel as haar gesin. “Ons as ouers het geweet ons dogtertjie ly en dat haar lewe beter sou wees sonder die ogie, maar Quinnitta moes self besluit. Sy het ons uiteindelik een oggend gesê sy voel gereed om haar oog te laat verwyder.
Die operasie is gedoen en alles het goed afgeloop,” vertel haar ma. Ses weke later was Quinnitta vir haar eerste konsultasie by Artificial Eye Aid and Care waar sy alles gehoor het oor ‘n gepaste prostetiese oog (glasoog) en haptiese skulpe. In die opvolgende weke is die afmetings geneem en die prostetiese oog gemaak, gepas en ingesit. Die volgende dag was Quinnitta al terug by die skool, dolgelukkig met haar nuwe oog. “Ons kon dadelik sien hoe sy selfvertroue opbou en begin skitter. In plaas daarvan om in haar dop terug te kruip, kon sy pynloos en met gemak terugkeer skool toe. Niks kon haar meer terughou nie.
Sy kan steeds nie aan kontaksport deelneem nie, maar dit kry haar nie onder nie. “Sy straal en almal is mal oor haar. Haar interaksie met ander is soos dié van enige normale kind van haar ouderdom. Sy praat mens se ore van jou kop af, glimlag heeltyd en motiveer haar maats daagliks,” sê Shalmyn trots. Quinnitta werk hard, presteer al beter en is ‘n trotse 2020-prefek by Laerskool Totius. “Totius is soos my ‘ander huis’ met onderwysers wat omgee, wat my gedra het van graad 1 af,” sê Quinnitta met oortuiging. Dit is duidelik dat sy die vermoë het om in enige iemand se hart in te kruip – ‘n sterk en nederige meisie met wie dit fisies en emosioneel baie goed gaan. “Ons kan nie genoeg dankie sê nie … vir die mense wat ons gehelp het, die dokters en die Here,” sê haar ma.
