Geen water: Emfuleni verduidelik dít is waarom inwoners nie water het nie
VEREENIGING. – Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het uiteindelik sy stilswye oor die geheimsinnige watertekorte in Drie Riviere en ander woongebiede verbreek en ’n verduideliking aan die publiek uitgereik.
Dit volg nadat inwoners al vir langer as ’n maand kla oor ‘n geheimsinnige daling in waterdruk gedurende die dag wat inwoners se krane laat leegloop.
Volgens inwoners met wie Vaalweekblad gepraat het gebeur dit daagliks in die omgewing van 07:00 in die oggend en word watertoevoer eers laatmiddag herstel.
Stanley Gaba, ’n woordvoerder vir die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, het by navraag erken dat waterbeperkinge ingestel is om ’n “totale ineenstorting van die massa-watervoorsieningstelsel te voorkom”.
Volgens Gaba het Rand Water reeds sy jaarlikse gemiddelde aanbod van 4 169 megaliter drinkwater per dag met 8% in die 2019/2020 finansiële jaar oorskry.

“Dit is weens die verhoogde vraag na water in die munisipale sektor. Hierdie sektor verteenwoordig die grootste komponent van Rand Water se drinkbare watervoorraad-volumes,” het Gaba laat weet.
Gaba het verduidelik dat die waterbeperkings reeds op 1 Augustus vanjaar ingestel is. Hy het dit laat blyk dat die beperkings nie alleenlik tot Drie Riviere beperk is nie, maar dat dit ook ander gebiede in Emfuleni insluit.
“Saam moet die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit en Rand Water help om waterverbruik met 8% te verminder.”
Die munisipaliteit het ’n beroep op inwoners gedoen om water spaarsamig te gebruik ten einde ’n katastrofiese totale ineenstorting van die massa-watervoorsieningstelsel te voorkom.
Daleen Venter, raadslid vir Drie Riviere, het kritiek uitgespreek dat die munisipaliteit nou eers met inwoners oor die kwessie kommunikeer. Inwoners word tog vooraf gewaarsku wanneer beurtkrag toegepas word, maar toe die munisipaliteit besluit het om watertoevoer te verminder, is inwoners nie behoorlik daaroor in kennis gestel nie.
