Local newsNews

Kanker eis bekende oudhoof van hospitaal se ongevalle-afdeling

Sy het in1970 as jong meisie na Vanderbijlpark verhuis waar sy haar opleiding deurloop het en jare lank by verpleging betrokke was.

 

Retha Fitchat

VANDERBIJLPARK. – ‘n Jarelange inwoner en bekende in Vaaldriehoekse verplegingskringe, mev. Sheila Lingenfelder, is onlangs weens verspreide kanker oorlede. Mev. Lingenfelder was ‘n voormalige verpleegkundige wat etlike jare in beheer van die destydse Vanderbijlpark-hospitaal se nagskof-ongevalle-afdeling was.

Mev. Lingenfelder het op Springfontein in die Vrystaat grootgeword en in 1970 as jong meisie na Vanderbijlpark verhuis waar sy haar opleiding deurloop het en jare lank by verpleging betrokke was. Sy het mettertyd ook by privaatverpleging betrokke geraak maar moes dit staak toe sy sowat 11 jaar gelede kop- en nekbeserings in ‘n fratsongeluk opgedoen het.

Volgens haar man, mnr. Daan Lingenfelder, het sy hom die afgelope jare met die boekhouding van sy konstruksie- en instandhoudingsonderneming bygestaan.

“Sheila was ‘n ywerige tuinier en baie lief vir haar tuin en blomme. Sy het ons tuin in ‘n lushof omskep,” sê Daan. Sy het ook graag gehekel en gebrei. Sy is nege maande gelede met kanker gediagnoseer, wat mettertyd versprei het.

“Sheila was allergies vir die meeste soorte pynmedikasie maar die Here was goed vir haar. Sy het relatief min pyn gehad en is op ‘n mooi manier kom haal. Sy het net haar oë toegemaak en is saggies weg,” sê Daan oor sy geliefde lewensmaat met wie hy 47 jaar getroud was. Hy het Sheila die afgelope nege maande meestal self versorg en seker gemaak dat sy so gemaklik as moontlik was – dag en nag.

“Dis moeilik om die toue op te tel sonder haar. Ons het altyd alles saam gedoen,” sê hy.

Buiten haar man word wyle mev. Lingenfelder ook oorleef deur hul dogter Yolandie, seun Louis en vyf kleinkinders. Sy sou op 1 Oktober 68 geword het.

‘n Troosdiens is reeds by die ou NG Gemeente Tuine gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button