Vaalweekblad ryg Caxtontoekennings in
Drie van ons redaksionele spanlede het geskitter by die onlangse Caxton-toekennings.
VANDERBIJLPARK. – Verskoon tog as dit lyk asof Vaalweekblad se knope so bietjie ekstra span, ons het nie (so baie) gewig oor die grendeltyd opgetel nie, dis van pure trots! Drie van ons redaksionele spanlede het geskitter by die onlangse Caxton-toekennings.

Vermeulen. Foto: Gerda Bruinette

Die span blyk veral meesters agter die kameras te wees. Senior Redakteur, Elsje Vermeulen was een van die finaliste in die Fotograaf van die Jaar (2019) afdeling met haar uitsonderlike portefeulje wat aksie en emosie vasvang. Sy was ook ‘n finalis in die Harde Nuus Foto-afdeling, Sport Foto-afdeling en Geleentheid Foto-afdeling.

Gesoute joernalis, Lazarus Dithagiso het ‘n eerste plek in die Harde Nuus Foto-afdeling behaal. Sy foto
getiteld, “Come closer and I blow your head!” is senutergend net om na te kyk en die beoordelaars het hom geloof vir sy dapperheid om so ‘n besonderse foto in ‘n uiters gevaarlike situasie te neem.
Die een wat egter met die meeste toekennings vir die dag kan spog is Vaalweekblad se Sportredakteur en Ster South Redakteur, Ettienne van Rensburg. Hy het vier eerste plekke verower. In die fotografie-afdelings was hy die Sport Foto-wenner; Geleentheid Foto-naaswenner en Harde Nuus-naaswenner.

‘n Mens verstaan hoekom is Ettienne die Sportredakteur. Nie net het hy die Beste Sportfoto geneem nie, hy is ook aangewys as die Beste Sportskrywer. Sy kort, maar spitsvondige, koppe (dis nou die joernalistieke term vir opskrifte) het hom ook die toekenning vir die Beste Opskrif Skrywer besorg.

Die span het met elke toekenning gejuig, maar dit was so amper of ons het op die tafels begin dans toe Ettienne ook as Fotograaf van die Jaar aangewys is! Dit is die tweede jaar in ‘n ry dat hy dié toekenning verower. Die Caxton-toekennings is vanjaar vir die eerste keer aanlyn aangebied aangesien groot byeenkomste steeds onder die huidige regulasies verbied word.
MooiVaal Media se span het op 10 September by Stonehaven-on-Vaal bymekaargekom om na die lewendige uitsending te kyk. Na ‘n bemoedigende boodskap van hoop in hierdie moeilike tye van Caxton se hoof uitvoerende beampte, mnr. Jaco Koekemoer, is die finaliste en wenners vir elke afdeling aangekondig.
Die styl daarvan het aan die gewilde Oscar aande herinner sonder die aanbieders. Die feit dat die toekennings aanlyn aangebied moes word, het niks weggeneem van die spanning en emosies wat gewoonlik met so ‘n toekenningsgeleentheid gepaard gaan nie. Tussen die gejuig om die tafel en die selfone wat gou met boodskappe gegons het, was dit ‘n heuglike middag waar harde werk beloon is.
