Local newsNews

Skelms se nuwe manier om senior burgers te besteel

Swendelaars raak nou so mak dat hulle ongenooid by veiligheidskomplekse instap en inwoners besteel.

Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Swendelaars raak nou so mak dat hulle ongenooid by veiligheidskomplekse instap en inwoners besteel. Só sê ‘n inwoner van ‘n veiligheidskompleks in SE2, wat hoofsaaklik deur senior burgers bewoon word.

Sy wil ander inwoners waarsku om bedag te wees op die skelms se modus operandi.
Sy vertel: “Toe een van ons inwoners ‘n paar weke gelede by ons kompleks se hek uitgery het, het sy gesien dat daar ‘n swart paartjie langs die hek staan. Sy het gevra of hulle vir iemand wag, waarop hulle gesê het dat hulle ‘n dame met ‘n “wit kar” moet kom sien, en het gevra of die inwoner hulle sou toelaat om in te gaan. So kry hulle toe toegang tot ons kompleks.
“Ek het in my eetkamer gesit en werk en gesien hoe die twee voor my venster verbyloop. ‘n Paar minute later was hulle by my voordeur en het gesê hulle stel belang om een van die eenhede te koop. Ek het verduidelik mens kan net huur en dat hulle die agentskap moet kontak. Hulle vra my toe verskeie vrae soos hoe groot die kombuis is, hoeveel slaapkamers daar is en hoeveel verskillende eenhede in die kompleks is.
“Hulle wou graag net die kombuisarea sien, en domkop wat ek is, laat ek hulle toe by my sekuriteitshek in. Lang storie kort, ons gesels toe in die kombuis en die man gaan met trappe op boontoe terwyl die vrou my onder besig hou en vrae vra.
Ek wonder toe wat die man so lank daar bo doen en wou ook opgaan boontoe maar die vrou praat toe met hom in haar taal en ek hoor hy spoel die toilet. Ek aanvaar toe hy het seker net ‘n nood gehad en ons almal stap by die voordeur uit. ‘n Buurman wat buite was, het gesê hy sou die hek vir hulle oopmaak. Toe ek weer in my huis kom, vang my oog die vrou se groot handsak wat nog op my bank staan. Ek roep haar toe terug en sê haar sak staan nog hier. Sy kom toe weer in waarna hulle by die kompleks uit is.
“Ek het nog ‘n rukkie buite met ‘n buurvrou gesels en sy sê my toe die paartjie het aan haar vertel dat hulle my ken en vriende met my is. Hulle het ook genoem dat hulle die volgende Sondag weer by my gaan kom kuier. Toe ek ‘n rukkie later weer in my huis inkom, sien ek my skootrekenaar is weg. Ek gaan toe na die tafel waar my selfoon gelê het – dié is toe ook weg. Hulle het ewe netjies my skootrekenaar se kabel uitgetrek maar die muis en sleutelbord gelos.
“Ek vermoed hulle gaan by eenhede om en vang ander mense op dieselfde manier. Ons het agterna gehoor dat soortgelyke skelmstreke ook in Meyerton gebeur het, waar hoofsaaklik mense in hul 70’s so besteel is.
“Ek wil almal net waarsku: Moenie jou deur oopmaak vir vreemdelinge nie. Ek weet nie wat my besiel het nie. Ek is net baie dankbaar teenoor die Here dat hulle my nie oorval het nie. Niemand sou eers geweet het nie. Ek het my laptop en selfoon verloor, maar dis net wêreldsgoed wat vervang kan word. Die grootste skade is my waardevolle elektroniese foto-albums, foto’s van my kinders en oorlede ouers, alles kosbare dinge waarvan ek nie back-ups het nie,” sê sy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button