Cassandra Stone is op 4 Oktober dood aan komplikasies weens breinvliesontsteking (meningitis). Die sirkus het in ’n verklaring gesê dat Cassandra onthou sal word vir haar harde werk, moed en toewyding om sirkusgangers met die mees waaghalsige en indrukwekkendste sirkustoertjies te vermaak.

Die sirkus het haar in ’n inskrywing op hul Facebookblad as ’n lid van die sirkusfamilie beskryf. Cassandra, wat gedurende haar hoërskoolloopbaan gimnastiek beoefen het, het haar sirkusloopbaan in 1995 by die Brian Circus begin en later by die Boswell Wilkie Sirkus opgetree.
In 2005 het sy by die McLaren Circus aangesluit Sy was veral bekend vir haar sirkustoertjies met luislange en het in ’n stadium ook toertjies met krokodille gedoen. David McLaren, eienaar van die McLaren Circus, het aan media vertel dat Cassandra ’n veelsydige sirkuskunstenaar was wat talle sirkustoertjies bemeester het, insluitend die vliegtrapeze, lugring, enkele trapeze en die lugtou.
Sy was ook ’n uitsonderlike danser en is bekend vir haar verskyning by gayklubs regoor die land. ’n Gedenkdiens vir Cassandra is Saterdag, 10 Oktober gehou.
