VANDERBIJLPARK. Die Vanderbijlpark Rolbalklub is more-middag die gasheer van die Bowling for Boobies-fondsinsameling wat deel vorm van OFM se PinkTober-veldtog.
Die veldtog samel geld in vir KANSA en Reach for Recovery wat ondersteuning bied aan mense wat deur borskanker geraak word.
Spanne van vier betaal R2 500 om deel te neem. Die volle inskrywingsbedrag word aan die twee begunstigde organisasies geskenk.
OFM se PinkTober-veldtog het verlede jaar R1,2 miljoen ingesamel. Die Bowling for Boobies-rolbalaande het R650 000 van dié bedrag bygedra met 168 spanne wat in vyf stede deelgeneem het.
OFM se fondsinsamelingsdoelwit vir vanjaar is R1 miljoen. ’n Bevestigde bedrag wat tot dusver in 2026 ingesamel is, was nie beskikbaar ten tyde van publikasie nie.
