NewsNews

Juffrou Rika groet Lumiére na 32 jaar

VANDERBIJLPARK. – Vir meer as drie dekades was Juffrou Rika Bosch ‘n bekende gesig by Lumiére Primêre Skool in Vaalpark.

Sy was deel van die grondslagfase, was vir 26 jaar betrokke by die naskoolsentrum en ook die een wat die skool se VCSV begin en aan die gang gehou het.
Dit was vir die skool ‘n hartseer dag toe Rika einde September uitgetree het.
Vir die spesiale geleentheid het haar kollegas so ‘n bietjie gekonkel en haar twee keer verras. Die eerste keer was tydens tweede pouse toe al die personeel bymekaar gekom het vir gevulde pannekoek. Tydens die geleentheid het hulle ‘n boek aan haar oorhandig vol “Lumie Liefde”. Die boek bestaan uit ingekleurde en handgeskrewe briefies van elke leerling in die skool.
“Dit was vir my so spesiaal en ‘n groot verrassing,” vertel sy terwyl sy trots die boek vashou. Met huis toe gaan tyd het haar tweede verrassing
gewag. Sy kon vir oulaas die skool se bus tot by Stonehaven-on-Vaal bestuur, waar die grondslagfase se personeel vir haar gewag het vir nog ‘n partytjie.


Die keer het sy ook ‘n pragtige koffiebeker met ‘n hoenderhaan gekry.
“Ek het my eerste keramiek hoendertjie gekry by ‘n leerling in Hazyview toe ek in 1978 daar skoolgehou het.
Deur die jare het die hoendertjies net meer geword.”
Sy gaan wys vir my al die hoenderprentjies en beeldjies in die kombuis en die metaalhoenders buite. Die meeste het sy as geskenke ontvang en
elkeen is vir haar kosbaar. “Ek bly nou in ‘n hoenderhok met al die hoenders,” lag sy.
Sy onthou haar eerste drie jaar in die onderwys as uitdagende tye. “Ek het 44 kinders in die klas gehad. Van hulle was in Gr. 2 en die ander in
Gr.3. Engels en Afrikaans. As ek iets op die swartbord geskryf het, moes ek dit in Engels en Afrikaans doen en dan in drukskrif vir die Graad 2’s en in lopende skrif vir die Graad 3’s,” vertel sy.


Alhoewel sy deur die jare vir al die laerskool grade klasgegee het, het sy altyd die Gr.1’s die meeste geniet. “Ek is nie spyt ek het onderwys gaan
studeer nie. Om met kinders te werk is vir my lekker. Ek is ‘n introvert wat nie baie praat nie, maar as ek die klaskamerdeur toegetrek het, dan was
ek op my stukke. Dis daar waar ek met die kinders se harte en persoonlikhede kon werk en hulle kon sien ontwikkel,” sê sy en haar oë praat saam. Kinders lê haar na aan die hart.
“Oumense ook. Ek nooi gereeld tannies van 80 jaar en ouer om by my te kom kuier. Ek wil nie hê hulle moet eensaam wees nie,” sê Rika, wat tot
onlangs nog na haar eie ma van 90 jaar omgesien het.
Rika is ook lief vir tuinwerk en koester die mooiste varkoor in haar tuintjie en ‘n pragtige pienk orgidee in die sitkamer.
“Ek gaan vir drie maande bietjie rus. Hierdie was ‘n rowwe jaar, maar Januarie gaan ek weer vir Gr. 1’s by ‘n privaatskool skoolhou”, vertel sy opgewonde. Juffrou Rika is nog lank nie klaar met skoolgee nie!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button