NewsNews

Marlene se nierstene is verwyder maar lang pad lê nog voor

VANDERBIJLPARK. - Na drie maande van ondraaglike pyn weens verskeie nierstene kan Marlene Taylor, ‘n 23-jarige universiteitstudent van die dorp, weer effentjies glimlag.

Die berig het in Vaalweekblad van 14 Oktober verskyn. Marlene was intussen weer in-en-uit die hospitaal. Vaalweekblad sal in Woensdag se uitgawe meer vertel oor hoe dit nou met haar gaan.

 

Sy het verlede Donderdag ‘n lewensreddende prosedure in ‘n privaathospitaal ondergaan danksy die bydraes van die publiek en ‘n individuele donateur. Marlene was sedert die begin van Julie in intense pyn omdat die gesin nie die sowat R100 000 vir die operasie in ‘n privaathospitaal kon bekostig nie, en staatshospitale doen tans weens die Covid-inperking nie sulke prosedures nie. Die nierstene het veroorsaak dat haar niere swel en hoewel “stents” tydens ‘n vorige prosedure ingeplaas is om urienvloei te vergemaklik, het sy toenemend pyn gehad. Danksy vriende wat insamelings deur die groep Marlene’s Hope en Back-a-Buddy geloods het, sowel as ‘n anonieme donateur wat vir die grootste deel van die operasie betaal het, is die nierstene toe Donderdagoggend in die Midvaal Privaat Hospitaal met laser stukkend geskiet en verwyder. Alles het goed gegaan tot Vrydagaand toe Marlene onverwags ‘n koors van 38.3 grade ontwikkel het. Teen Saterdag was dit 38.6. ‘n Sonar is gedoen en x-strale geneem, bloed is getrek en ‘n Covid-toets gedoen, maar al die uitslae was normaal. Die oorsaak van haar hoë koors kon net nie bepaal word nie. Teen Sondag het dit geklim tot 39.3 en sy moes heeltyd aan ys suig en afgespons word in ‘n poging om die koors te breek, sê haar ma, Martie. Marlene ontvang tans anti-inflammatoriese middels en ander koorswerende medikasie maar haar temperatuur word steeds heeltyd gemonitor. Nog toetse word daagliks gedoen om die oorsaak van haar hoë koors te bepaal. “Dit is nie lekker om ‘n mens se kind steeds te sien swaarkry nie, maar ons weet dinge gaan van nou af net beter gaan,” sê Martie. Marlene het gevra dat Vaalweekblad almal wat bygedra het om haar operasie moontlik te maak, namens haar moet bedank. Verskeie sakeondernemings het bygedra en selfs Sassapensioenarisse het van hul maandelikse geld afgeknyp om vir die operasie te help betaal. Ongelukkig is dit nog nie die einde van die gesin se geldelike uitdagings nie. Marlene sal nog ‘n geruime tyd opvolgbehandeling moet ontvang. Enigiemand wat nog ‘n bydrae wil maak sodat sy die nodige medisyne en nasorg kan bekostig, is welkom om ‘n inbetaling te maak in haar ma se bankrekening: Martha Johanna Gibson, Absa-spaarrekening 009358245890, takkode: 630237. “Elke sent word opreg en uit ons harte waardeer,” sê Martie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button