NewsNews

Henley-treinramp: Kinderheld Johan le Roux op Heldedag vereer

Neem jy die Henley-on-Klip-afrit op die R59-snelweg en draai links by die treinbrug, maak die pad ‘n onverwagse S-draai.

Neem jy die Henley-on-Klip-afrit op die R59-snelweg en draai links by die treinbrug, maak die pad ‘n onverwagse S-draai. so 400 meter verder draai jy weer links en kom dan by ‘n uitsonderlike gedenkplek met ‘n spits monumentjie uit: ‘n Gedenktuin waar een van Suid-Afrika se grootste kindertragedies jaarliks herdenk word. Dit is vanjaar 50 jaar gelede dat die Henleytreinramp plaasgevind en 23 skoolkinders se lewens geëis het. Op 10 Oktober vanjaar, Heldedag, is daar in die Gedenktuin eer betoon aan die kinderheld, Johan le Roux, wat in 1970 sy lewe opgeoffer het om ander te red. Mev. Kobie Ströh, ‘n plaaslike geskiedeniskenner en kultuurliefhebber, vertel van die gebeure op daardie noodlotsdag: “Dis 28 Januarie 1970. ‘n Skoolbus met 42 leerlinge vanaf die Hoërskool Dr. Malan en laerskole in die omgewing, is die middag op pad na Daleside om leerlinge af te laai. Die bestuurder, mnr. Koos Koekemoer, is agter die stuur.

“Kwart oor twee die middag, net voor die Henley-on-Klip/Highbury-spooroorgang, hou die bus stil en trek stadig weer weg. Op die spoor stol die bus en mnr. Koekemoer probeer vergeefs om dit weer aan te skakel. Ondertussen kom die elektriese postrein teen sowat 88 kpu nader. Die kinders besef die gevaar en raak paniekerig. Hulle slaan en druk teen die vensters. Hansie Fourie, busprefek en matriekleerling, kry die deur oop en spring uit. “Johan le Roux, ook ‘n 17-jarige matriekleerling van die Hoërskool Dr. Malan, sien die 8-jarige Petrus van der Walt sit in die middel van die bus in ‘n syvenster vas. Johan stamp hom uit. Johan skop ook die noodvenster uit en stamp nog kinders na buite – onder andere vir Willem Nel. “Toe die trein sekondes later die bus tref, besef Willem sy redder is nog in die bus. Die trein tref die agterkant van die bus, daar waar die Daleside-kinders sit, want hulle sou laaste afklim.

Mev. Stienie le Roux, die kinderheld
Johan le Roux se ma, woon die afgelope 50 jaar gereeld die huldigingsgeleenthede vir haar ontslape seun by.
Weens die inperking kon sy egter nie
vanjaar se verrigtinge op Heldedag
bywoon nie. Sy is nou 93 en woon in ‘n
ouetehuis in Kilnerpark, Pretoria. Johan
se pa is reeds in 1986 oorlede. Hy is
skuins oorkant Johan se graf begrawe.

“Van die 42 kinders sterf 23 – meeste vanaf Daleside. Sommige gesinne verloor gelyktydig twee kinders. Sestien is beseer en drie kom ongedeerd uit die ramp. ‘n Tragiese dag vir die Vaaldriehoek en Suid-Afrika.” Vir baie van die naasbestaandes hang ‘n wolk van hartseer tot vandag toe nog oor Daleside. Wyle Johan le Roux word steeds onthou as ‘n ligpunt op daardie donker dag. Hy was ‘n uitsonderlike leier, ‘n held wat sy lewe opgeoffer het sodat ander kinders kon bly leef. Hy was ‘n toegewyde Voortrekker wat die oggend van die ongeluk deur sy skoolhoof ingelig is dat hy die onderskeiding as Presidentsverkenner verwerf het. Die Wolraad Woltemade-toekenning vir Dapperheid is in 1973 postuum aan hom toegeken.

Mnr. Wynand Engelbrecht, ‘n geskiedenisliefhebber wat betrokke is by die
instandhouding van die gedenktuin,
langs die monument waarop die slagoffers van die busramp se name verskyn.
In sy hande is Vaalweekblad se 55
Jaar-herdenkingsboek waarin ‘n berig
oor die ramp verskyn. Foto: Chilli PicNic

* Die gedenktuin is agt jaar gelede hier gevestig deur Leon Kirchner, ‘n plaaslike sakeman, met die ondersteuning van wyle Johan le Roux se ouer broer Louis, sowel as mnr. Freddie Peters, ‘n bekende kultuuren gemeenskapsleier, en Wynand Engelbrecht, ‘n geskiedenisliefhebber wat help om die tuin in stand te hou. Die Heldedagverrigtinge is vanjaar deur verteenwoordigers van die VaaldriehoekKultuurnetwerk en verskeie geskiedkundige en kulturele organisasies soos die Genealogiese Genootskap van SA, die FAK, Volkspele, SAWV, Midvaal DA, VF Jeug Gauteng en Monumentjagters bygewoon. Mnr. Engelbrecht het by die geleentheid ‘n praatjie aangebied en ‘n spesiale boodskap gebring: “Ons sal onthou. Vertel vir die kinders. Vertel vir die kleinkinders. Dit is in ons as ouers en grootouers se hande om ons kinders te leer sodat hulle kan onthou.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button