NewsNews

Van naderby: Vaalweekblad se Senior Redakteur

VANDERBIJLPARK. – Sekuur, akkuraat, logies, maar ook kreatief en verbeeldingryk met ‘n skerp sin vir humor en ‘n hart wat warm klop vir mens en dier in nood.

MooiVaal Media se Senior Redakteur en Redakteur van Vaalweekblad, Elsje Vermeulen, is ‘n vrou met vele talente en belangstellings. Stilsit is nie een daarvan nie … Op skool het sy uitgeblink in sport.


Alle sport. Sy kon ‘n tennisbal hard moker en was ‘n meester met ‘n hokkiestok in die hand. Dan was daar nog muurbal en atletiek ook. Sy het nie net vir Hoërskool Overvaal geskitter nie, maar het ook provinsiale kleure verwerf in hokkie en muurbal. Later jare het sy senior provinsiale kleure vir muurbal, hokkie en aksie-krieket verwerf.
Op hoërskool was sy onseker oor watter rigting sy wou volg, maar het aan die einde van matriek besef sy wil joernalis word. Dit was te laat in die jaar om by die universiteit in te skryf, maar ‘n sportbeurs het haar wel ‘n plek by die destydse technikon (vandag VUT) besorg om fotografie te swot.
In haar eerstejaar het ‘n kruisligamentbesering haar sportloopbaan tydelik gekelder en studies beïnvloed. Sy kon van haar eksamens eers in die volgende jaar voltooi. Kort daana het sy aansoek gedoen vir ‘n junior sportjoernalispos by Vaalweekblad. Dit was 30 jaar gelede. Sedertdien
het sy verskeie posisies by die koerant beklee, van joernalis tot by sub- en nuusredakteur.

Een van Elsje se gunstelingfoto’s deur die jare. Met hierdie foto (Honour & Discipline) het sy in een jaar die 1ste plek gewen by die Caxton Awards en ook ‘n 2de plek by die FCJ Awards (Forum for Community Journalists).

“Ek wou alles van die koerant weet. As junior by die koerant het ek dit baie geniet om te gaan help met die foto’s se ontwikkeling in die donkerkamer of om by die produksiekant te leer hoe om bladuitleg te doen,” onthou sy.
“Vaalweekblad het vir my ‘n loopbaan gegee en daaroor sal ek altyd dankbaar wees. Ek het by die koerant groot geword.
Alles het gebeur soos dit moes,” sê sy en glimlag tevrede.
Alhoewel sy die afgelope drie dekades al verskeie toekennings vir haar uitstekende beriggewing en fotografie verwerf het, beskou sy elke dag steeds as ‘n geleentheid om te verbeter. Elsje geniet elke aspek van die koerantwese. Voordat sy die leisels as Senior Redakteur oorgeneem het,
was sy vir byna nege jaar Nuusredakteur van Vaalweekblad. In die tyd was sy meer agter die skerms doenig, maar nou se dae geniet sy dit weer om self uit te gaan vir ‘n storie.

Regs: Elsje as jong sportjoernalis met een van haar toekennings wat sy deur die jare verwerf het.

“Ek is baie trots op my span. Dit is een van die sterkste redaksiespanne wat die koerant nog gehad het. Ons is ‘n groep mense met uiteenlopende talente wat besonders goed saamwerk en wat maak dat ons week na week ‘n kwaliteit koerant kan uitgee,” sê sy. Haar familie, honde en die “wilde-mak” katte agter in die erf is haar vreugde. Naas haar passie vir haar werk, bly fotografie ook na-ure ‘n gunsteling tydverdryf en in die somer geniet sy dit om gholf te speel. Haar pen en kamera kan net so hard soos haar dryfhoue slaan, maar haar foto’s weerspieël ook haar kunstenaarsiel wat die wêreld van anderkant die algemene beskou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button