Saterdag stuur ek die Fransman noord. Die pad is besig. Naas die trokke wat in die linkerbaan aankruie, kan die res van die motoriste in twee groepe verdeel word. Die wat met hul plat gevaartes of hoë 4x4s volspoed in die regterbaan jaag, en die mense wat in hul 19-voertsek karretjies 50km/h op die snelweg ry. Ek oordryf nie.

Die 19-voertsek brigade sit in die middelbaan, partykeer selfs regs en dit is 50 op die opdraandes, 60 op die afdraandes en partykeer 70 op die gelykpad. Hier en daar is daar ‘n brawe anti, oë stokstyf, vingers om die stuurwiel geklem, wat 100 net-net haal. Natuurlik moet hulle aan die pad ook werk en natuurlik het iemand nou weer in iemand vasgery en daar staan alles stil op die snelweg. Darem nie vir lank nie. Net lank genoeg om my geduld te beproef.
Ek is nie in die beste van buie nie. Ek kry warm en hoe verder noord ek gaan, hoe warmer word dit. As mens van die Vaal af kom, voel dit mos Pretoria het die winter gemis.
Tussen die hitte en verkeer deur laat weet TomTom my ons moet by die volgende afrit links gaan. ‘n Mens sou dink dat ek ‘n pad wat ek ten minste elke ses weke ry goed sal ken.
Dis nie die geval nie, ek is rigtingbeduiweld, so TomTom moet my daar kry. Enigste probleem is, die linkerbaan is gepak, voor my kuier iemand op 60 km per uur en regs van my is die blink manne in hul blink karre, ‘n konstante stroom spoed. Daar is nie ‘n manier wat ek kan afdraai sonder om ‘n ongeluk te veroorsaak nie.
Ek hou verby, maar maak darem seker ek kry my plekkie in die linkerbaan-stoet. Kort daarna sê TomTom ek moet links gaan by die volgende afdraai, wat ek toe ook doen. Sal die simpel GPS nie toe net daar sy laaste digitale varkie verloor nie! “Oor 500m, maak ‘n U-draai” sê hy.
“Jy is mal” sê ek. “Daar is ‘n duidelike padteken wat dit verbied.”
“Draai om” sê TomTom, terwyl ek wild begin rondkyk om te sien op watter pad ek is. Die ou Johannesburg pad, ook bekend as die R101. Regte pad, maar Fransman is nou op pad Midrand toe. TomTom word amper by die venster uitgegooi, maar ek kry plek waar ek kan omdraai en die vrede word herstel. Langer gevat vir my temperatuur om weer normale vlakke te bereik.
Wanneer ek weer Pretoria toe gaan, trek ek sandale en ‘n T-hemp aan. Ek gee nie om of dit in die middel van die winter is nie. G’n mens kan rigting hou as dit voel of jou brein kook nie.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
