Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Vir Marlene Taylor (23), ‘n onderwysstudent van die Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus, is drie maande van uitmergelende pyn weens nierstene, herhaalde infeksies, slaaplose nagte en voortdurende naarheid en braking nou iets van die verlede. Alles danksy die publiek en “engele” wat bygedra het dat sy ‘n lewensreddende operasie kon kry.
Die tientalle pynlike toetse wat sy moes deurgaan en die handevol pille wat sy die afgelope drie maande daagliks moes sluk, is nou ook net ‘n onaangename herinnering. Danksy verskeie mense wat donasies gemaak het, kon sy vroeër die maand ‘n noodsaaklike operasie in die Midvaal Privaat Hospitaal ondergaan om haar nierstene te verwyder.
Hoewel sy kort na die operasie onverwags ‘n baie hoë koors ontwikkel het en weer baie siek was, lyk dit of haar liggaam nou uiteindelik die geveg gewen het. 
Marlene is reeds uit die hospitaal ontslaan en het verlede Sondagaand haar laaste hoë-dosis antibiotika geneem. Nou kan sy die lewe weer met albei hande aangryp en daarop fokus om haar akademiese jaar aan die Noordwes-Universiteit te voltooi. Sonars wat pas van haar niere geneem is, toon dat die geweldige swelling van die afgelope drie maande gesak het en albei niere terug is na die normale grootte van sowat 12 cm.
‘n Metaboliese profiel sal oor ‘n paar weke gedoen moet word om te probeer bepaal waarom Marlene in die eerste plek nierstene ontwikkel het. ‘n Ontleding van die stene wat verwyder is, toon dat daar twee tipes teenwoordig was: ‘n paar stene bestaande uit kalsiumoksalaat, sowel as ‘n seldsamer tipe bestaande uit kalsiumfosfaat, wat gewoonlik nie by so ‘n jong mens aangetref word nie.
Volgens Marlene se dokters is dit nou baie belangrik dat sy haar dieet aanpas en sout, suiker, rooivleis en voedsel met baie oksalaat en fosfaat vermy. Sy moet ook 2,5 tot 3 liter water per dag drink sodat enige oortollige kalsium, oksalaat en fosfaat uit die niere gespoel kan word voordat stene weer vorm, of as daar weer vorm, dit klein genoeg sal wees om maklik uitgeskei te kan word sonder die pyn, inwendige besering en verstoppings wat haar lewe die afgelope maande ondraaglik gemaak het. Marlene en haar gesin kan nie uitgepraat raak oor hoe goed almal vir hulle was nie – die mediese personeel en al die vriende en vreemdelinge wat almal op ‘n manier gehelp het om hulle deur dié moeilike tyd te kry.
“Marlene is so gelukkig en straal van vreugde… Ons as gesin kan weer normaal dink, slaap, leef, lag en dans van blydskap,” sê haar ma, Martie. “Die gereelde besoeke aan ongevalle, die gevoel van hopeloosheid en die depressie is verby. Nou is dit net vorentoe kyk. Ons is so dankbaar teenoor al die pragtige engele wat gebid, gebel en geld geskenk het. God is altyd daar, al dink ons nie so nie.”
Foto-samestelling: ‘n Fotobeeld van Marlene in die tyd voor die operasie, toe sy letterlik dag en nag in verskriklike pyn was weens nierstene. 

