Local newsNews

Geloof, hoop en liefde ten spyte van kanker

Ben en Rina Riekert leef vir hul pleegkinders. Hulle gee altyd vir ander, maar nou het hulle hulp nodig na kankerdiagnose.

VANDERBIJLPARK – Ben en Rina Riekert is bekend vir die liefde en hoop wat hulle as pleegouers aan kinders gee. Hulle is die hartklop agter die niewinsgewende organisasie, Jabes Foundation.

Die stigting het drie huise wat vir kinders in pleegsorg die stabiliteit, liefde en roetine bied wat hulle so broodnodig het. In die Riekerts se eie huis is daar al vele kinders van babadae tot volwassene gekoester.

Vir elke kind is hulle ‘n pa en ma. Vir hulle is die kinders in hul sorg soos hul eie. Ben is ongelukkig in Julie met Miëlodysplastiese Sindroom (MDS) gediagnoseer. Dit is ‘n tipe beenmurgkanker wat maak dat die liggaam baie lae witbloedselle, rooibloedselle en bloedplaatjies het.

Plakkaat verskaf Rina Riekert

Ben is met spierdistrofie gebore en het erge rugprobleme ervaar. Hy het in 2022 ‘n rugoperasie ondergaan, maar sy rug het tot in so ‘n mate ingegee dat hy verlede jaar September as medies ongeskik verklaar is. Hy het hom nie daardeur laat onderkry nie en vir lank nog sy stokperdjie, om messe te maak, volgehou. Dit was totdat hy lighoofdig begin voel het in Julie.

“As ek gaan sit, het die aarde gespin,” onthou hy. Vele doktersbesoeke en bloedtoetse later is daar bevind dat hy bloed benodig en is hy op 27 Julie in die hospitaal opgeneem. Na ‘n beenmurgbiopsie was die uitslag die laaste ding wat hy wou hoor. Dit was MDS met ‘n 25% merker.

Ben verduidelik dat sou die merker oor 40% gaan, dat hy dan leukemie ook sal hê. Hy het op hul huweliksherding op 17 Augustus met sy eerste chemoterapie behandeling begin. “Ek moet elke 28 dae gaan vir chemo vir sewe dae. Dit beteken ons moet dan elke dag Parktown toe en terug ry.”

Omdat sy bloedtellings so laag is, het hy eers twee maal per week bloed en bloedplaatjies gekry. Tans moet hy dit weeklik kry en kry hy ook weekliks booster shots om sy wit- en rooibloedselle te vermeerder. “Ek het nog drie chemoterapie behandelings oor. Dan wag daar ‘n stamseloorplanting,” vertel hy.

Die Riekerts het gelukkig ‘n mediese fonds. Ongelukkig dek die fonds nie alles nie en is die reiskostes baie hoog. Die mediese fonds se onkologie bedrag is ook vasgestel per jaar en is al bykans uitgeput. Van die bloedoortappings en bloedtoetse vereis bybetalings.

Daar is derhalwe ‘n BackaBuddyrekening gestig om met die onkostes te help. Rina sê hulle is dankbaar vir die rekening, want so kon hulle al ‘n uitstaande laboratoriumrekening betaal.

“Ons hou strokies van alles om te bewys waarvoor die geld gebruik word.” Sou daar ekstra fondse wees nadat Ben al die behandelings gekry het, sal dit in die Jabes Foundation se rekening inbetaal word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button