News

Downsindroom-tiener in hospitaal opgeneem kort voor sy 19e verjaarsdag

Kegan Holl (18) se gesondheid het die afgelope paar weke wipplank gery, en hy het reeds 'n rits antibiotika-behandelings agter die rug.

VANDERBIJLPARK – Kegan Holl, die dorp se geliefde seun met Downsindroom, wat verlam is, vier Saterdag, 31 Oktober, sy 19de verjaardag.

Sy ouers, Krystle en Anton Claassen (sy stiefpa), het saam met Kegan na dié groot dag uitgesien.

Hulle is egter nou weer baie bekommerd nadat Kegan Dinsdag weens gesondheidskomplikasies in die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal opgeneem moes word.

Hy het onlangs ’n ernstige blaasinfeksie opgedoen, wat sy ouers laat vrees het dat hy sepsis kan ontwikkel.

Om hom die trauma van ’n hospitaalopname te spaar, veral omdat hy ná ’n vorige ervaring bang is om alleen agter te bly, het sy ouers spesiale reëlings getref dat ’n verpleegster hom tuis versorg.

Terugslag

Hy is met ’n reeks antibiotika behandel wat deur ’n binneaarse drup toegedien is. Hoewel dit aanvanklik gelyk het of die infeksie ná die behandeling onder beheer was, het die teendeel gou geblyk.

“Twee dae later was dit duidelik dat hy nog nie gesond was nie,” vertel Krystle.

Opvolgtoetse het getoon dat ’n nuwe bakterie posgevat het, wat nog ’n behandelingstydperk genoodsaak het.

Sy laaste drup is Dinsdag toegedien, maar later daardie dag het sy gesondheid versleg en is daar besluit om hom hospitaal toe te neem.

Om sake te vererger, het hy ook longontsteking opgedoen. Hoewel hy steeds hoes, gaan dit tans stelselmatig beter met hom.

Dié nuwe gesondheidsterugslag het ook ’n bestaande kwaal vererger. ’n Ernstige bedsweer op sy boud, waarmee die gesin sedert 2024 worstel en wat byna genees was, het weens die infeksie weer vererger.

Aangesien herhalende blaasinfeksies ’n voortdurende bedreiging vir Kegan inhou, is daar besluit dat hy voortaan permanent ’n kateter sal dra in ’n poging om toekomstige infeksies te voorkom.

Ten spyte van al die gesondheidsuitdagings het Kegan met groot opgewondenheid na sy verjaardag uitgesien.

“Suster Jollie, wat hom tuis versorg het, het selfs spesiaal vir hom ’n Toy Story-koek laat bak. Nou is ons nie eens seker of ons ’n partytjie vir Kegan by die huis sal kan hou nie,” sê Krystle.

Mediese onkostes

Die behandelings en medikasie beloop egter ’n aansienlike bedrag, en die verpleegster moet ook vir haar dienste betaal word.

Die feit dat Kegan nou wel in die hospitaal opgeneem moes word, plaas nog groter finansiële druk op sy ouers.

Hoewel hulle hul bes probeer om al die mediese onkostes te dek, kan hulle dit eenvoudig nie alleen behartig nie.

Inwoners wat hul harte én beursies wil oopmaak om die gesin te ondersteun, word vriendelik versoek om uit te reik.

Enige hulp sal met diepe dankbaarheid ontvang word.

Bankbesonderhede

Rekeninghouer: Mr K Holl
Bank: Capitec
Rekeningtipe: Spaarrekening
Rekeningnommer: 2540521203

Kegan kan hopelik voor sy verjaarsdag uit die hospitaal ontslaan word. Foto: Verskaf
At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button