Local newsNewsNews

Van naderby: Vaalweekblad se verslaggewer

VEREENIGING. – Vaalweekblad verslaggewer en Ster Noord se redakteur, Christiaan Cloete, is altyd besig om te beweeg.

“Ek raak gou verveeld,” erken hy. “Dit is waarom dit vir my so lekker is om ‘n verslaggewer te wees. ‘n Mens leer elke dag iets nuuts, daar is nie regtig ‘n roetine nie en ons ontmoet interessante mense.”
Na skool het hy eers ‘n fotografiekursus gedoen voordat hy joernalistiek aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU), vandag die Universiteit van Johannesburg, geswot het. Daarna het hy en ‘n vriendin in die VSA gaan werk en getoer. Die amperse jaar in Amerika beskryf hy steeds as die beste tyd van sy lewe. Hy onthou hoe hulle alles gedoen het – van skottelgoed was tot by onderhoudswerk by ‘n ski-oord in Vermont.
Daarna was hy ‘n valet by ‘n hotel in Alabama waar hy dit geniet het om die duur sportmotors vir die gaste te gaan parkeer en weer te gaan haal. Met die fooitjies wat hul gekry het, het hul genoeg gespaar om ‘n motor te huur waarmee hul Louisiana, New Orleans, Texas en New Mexico platgetoer het.
Christiaan tydens die Discovery 94.7 Ride
Joburg in 2019. Foto: Facebook
“Ons het in tente geslaap en by al die parke aangedoen, onder meer die Grand Canyon,” onthou hy met ‘n glimlag. Terug in Suid-Afrika het hy sy eerste verslaggewerspos in 2004 by die Carletonville Herald aanvaar. Sedertdien het hy al by verskeie koerante regoor die land gewerk. In Augustus 2019 het hy na baie omswerwinge weer sy pad Vaaldriehoek toe gevind. Hy het in Drie Riviere grootgeword en was in Hoërskool Drie Riviere tot in Graad 10. Vandag is hy ‘n integrale deel van Vaalweekblad se redaksiespan.
Christiaan Cloete. Foto: Gerda Bruinette
Christiaan is avontuurlustig en sal byna enige iets aanpak. So het hy al ‘n joernalistiekkursus in Indië gaan bywoon, op kamele gery, in Mauritius gesnorkel, ‘n luislang rondgedra en verskeie berge, waaronder Tafelberg, uitgeklim. Hy het die Comrades Ultra Marathon die eerste keer in 2001 gehardloop en sedertdien 13 van die uitmergelende togte aangedurf. Oefen is vir hom ‘n manier van ontvlugting. Wanneer hy nie vir die Comrades oefen nie, geniet hy dit om fiets te ry.
Veral padfietswedrenne is vir hom lekker en hy beskryf elke rit op ‘n fiets “as ‘n klein vakansie”. Wanneer hy en sy fiets op spoed is of wanneer sy tekkies in reëlmaat die teerpad tref, herlaai sy emosionele energievlakke en slyp dit sy verslaggewer-jagtersinstink vir die volgende groot storie wat ontgin moet word.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button