Buitensporige ELM salaris!
Die VF Plus verwelkom die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Lebogang Maile, se besluit om op te tree teen raadslede van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit (die plaaslike munisipaliteite Emfuleni, Lesedi en Midvaal val onder dié distriksmunisipaliteit) wat ten gunste was van die buitensporige salarisaanpassing van die munisipaliteit se voormalige munisipale bestuurder, wyle Stanley Khanyile.

Mediaverklaring
Khanyile het ʼn salaris van R1,8 miljoen per jaar ontvang terwyl die pos vir R1,2 miljoen per jaar geadverteer is. Khanyile het die salaris sedert 2018 tot sy dood in Oktober vanjaar ontvang.
Dis onrusbarend dat die buitensporige salaris nooit onder die aandag van die relevante oorsigkomitees van die Gauteng-wetgewer gebring is om dit betyds aan te spreek nie.
Die VF Plus sal daarop aandring dat die raadslede van Sedibeng wat in die Cogta-verslag betrek word by onreëlmatige en ongemagtigde besteding terwyl Khanyile as munisipale bestuurder gedien het, verantwoordelik gehou word en die geld aan die munisipaliteit terug betaal.
Raadslede word deur die gemeenskap verkies om hulle in munisipale rade te verteenwoordig en moet ten alle tye verantwoordbaar gehou word vir hul dade. Dit is onredelik dat belastingbetalers moet betaal vir amptenare en raadslede se wanbesteding en korrupsie en daarom sal die VF Plus nie huiwer om ongerymdhede bloot te stel nie.
