‘Hier kom groot %#$@’ waarsku inwoners
VANDERBIJLPARK. – Nou is inwoners eers boos! Gister is hulle gekalmeer met die belofte dat die burgemeester van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, eerw. Gift Moerane, hulle vandag sou toespreek ... maar daarvan het dadels gekom!
’n Groot groep inwoners van Sonlandpark en Falcon Ridge in Vereeniging het gisteraand by die Riverspray-woonkompleks in Vanderbijlpark opgedaag om hul ongelukkigheid oor die krag-situasie in die twee woonbuurt aan die burgemeester van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, eerw. Gift Moerane oor te dra.
Dit was die gevolg nadat die burgemeester se adres glo op ‘n WhatsApp-groep geplaas is. Die ontstoke inwoners sit glo al vir dae lank sonder elektrisiteit, en boonop is dit nie die eerste keer dat dit gebeur nie. Genoeg is genoeg! Daar was baie ongelukkigheid en inwoners wat deel was van die groep het later gesê dat daar skote op hulle deur die polisie afgevuur is. Dit kon egter nie bevestig word nie. Die gebeure het wel “Morning Live” op televisie gehaal.
Hulle wou met die burgemeester self praat, maar daar is toe vir hulle gesê dat hy die inwoners vanmiddag in Sonlandpark om 17:00 sou toespreek.
Net voor 17:00 is die volgende boodskap egter ontvang: Good afternoon Residents, please note that the honourable Mayor Gift Moerane will not be adressing the community of Falconridge and Sonlandpark tonight as he is not well. The meeting is therefore postponed and a new date will be communicated.
Dit is toe dat boodskappe op sosiale media begin verprei het met die belofte dat hier “groot &^%$ gaan kom” omdat hy nie opgedaag het nie. Daar word glo beplan om inwoners van Sebokeng, wat ook nie elektrisiteit het nie, te betrek om saam met die inwoners van Sonlandpark en Falcon Ridge te staan.
Vaalweekblad het ‘n joernalis op die toneel. Lesers sal op hoogte gehou word.



