CommunityLocal newsNewsSponsored

Midvaal se Hoofsweep-Rapport

"My hoop is dat ons met hierdie rubriek ‘n verhouding met ons Midvaal-inwoners sal kan bou wat getuig van wederkerige respek en ‘n harmonieuse verstandhouding" - Raadsheer Phil Pretorius

   

MIDVAAL HOOFSWEEP RAPPORT

Hierdie is die eerste aflewering van ‘n rubriek deur Raadsheer Phil C. Pretorius van die Midvaal-stadsraad, waarin hy meer oor die funksies, suksesse en aktiwiteite van dié presterende munisipaliteit gaan vertel. Raadsheer Pretorius is ook Hoofsweep van die stadsraad.

Aangename kennis! Ek is raadsheer Phil C. Pretorius en woon in Meyerton. Ek is sedert 2014 Hoofsweep (Chief Whip) van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit en raadslid sedert 2008. Ek is ook die wyksraadslid vir Wyk 14, wat Golf Park en Uitbreidings drie, vier en ses insluit.

Welkom by die eerste publikasie van die Midvaal Hoofsweep-Rapport. Die woord “rapport” word in Afrikaans meer verbind met die lewer van uitslae in onderrigsituasies maar kom oorspronklik van die Franse woord wat verwys na ‘n verhouding waar ‘n harmonie van interpretasie of “verstaan” heers. My hoop is dat ons met hierdie rubriek ‘n verhouding met ons Midvaal-inwoners sal kan bou wat getuig van wederkerige respek en ‘n harmonieuse verstandhouding m.b.t. aangeleenthede wat verband hou met plaaslike regering.

Ek hoop om relevante nuus van die Midvaal Plaaslike Raad, kennisgewings oor projekte, sowel as interessante inligting met ons inwoners te deel.

Waar is ons? Midvaal is ‘n plaaslike munisipaliteit wat saam met die Lesedi en Emfuleni Plaaslike Munisipaliteite in die Sedibeng-distrik val. Midvaal strek vanaf die Kliprivier op die R59 wes en sluit in Eikenhof, Walkerville, De Deur, Lakeside, dele van Duncanville, Risiville, oos tot by Vaal Marina, noord tot voor Heidelberg en via die Suikerbosrand terug tot verby Henley-on-Klip en Daleside, met Meyerton as die administratiewe hoofkantoor. Midvaal beslaan ‘n oppervlakte van 1 722km² en het 111 600 inwoners.

Funksie van ‘n plaaslike munisipaliteit: Die belangrikste funksie van ‘n plaaslike munisipaliteit en die interaksie van die inwoners met hul munisipaliteit staan bekend as die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP), in Engels bekend as die Integrated Development Plan (IDP). Sien die dokument vir Midvaal 2020/2021 by www.midvaal.gov.za, Documents, IDP & SDF. In die volgende rubriek gaan ek graag in meer detail hieroor gesels.

Sake van belang: Ek kry gereeld navrae in verband met die diens en werksaamhede van die Meyerton-lisensiekantore. Hoewel dié lisensiekantore in Midvaal is, word dit deur die Sedibengse Distriksraad beheer en geadministreer aangesien dit ‘n distriksfunksie is en as deel van hulle bevoegdhede gelys word. Midvaal het dus geen insette in die funksionering en lokaal van die lisensiekantore nie. Die Sedibeng-lisensiekantore word maklik verwar met die Midvaal Verkeersafdeling wat vir plaaslike verkeer en boetes verantwoordelik is, maar totaal onafhanklik van mekaar funksioneer.

Hou die media dop vir nog inligting oor Midvaal en lees ook die Midvaal Hoofsweep Rapport wat gereeld op www.vaalweekblad.com en Vaalweekblad Facebook gedeel sal word. Besoek ook Midvaal se webwerf: www.midvaal.gov.za , Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network

Kontaknommer: 0861 643 8225

Dankie vir die saamkuier rondom plaaslike regeringsnuus. Ek vertrou dat ons nog baie goeie RAPPORT gaan bou.

Trotse Midvaal-groete. Raadsheer Phil C. Pretorius van die Midvaal Plaaslike Raad.

 

                          ********************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button