Lees: Vrou wat tydens kragonderbreking in Sonlandpark beroof is praat
Anél Cronjé skryf: “Op 9 November 2020 omstreeks 19:21 het ons soos oudergewoonte voor my tannie se huis in Drakensbergstraat gestaan en wag vir haar om die hek vir ons oop te maak, maar dié keer was dit moeiliker, want Sonlandpark is al dae sonder krag. Dit is juis hoekom ons gery het: Ons het …
Anél Cronjé skryf:
“Op 9 November 2020 omstreeks 19:21 het ons soos oudergewoonte voor my tannie se huis in Drakensbergstraat gestaan en wag vir haar om die hek vir ons oop te maak, maar dié keer was dit moeiliker, want Sonlandpark is al dae sonder krag. Dit is juis hoekom ons gery het: Ons het vir my tannie meer beligting geneem en die vleis wat nog te redde was gaan oplaai.

“My ma was reeds uit die motor en het by my tannie se hek gestaan en wag dat die hek oop moet gaan. Ek was nog in die motor. Sy het gevra dat ek die kar so moet trek dat dit die huis belig. Dit was toe wat ek een van die mans gewaar het. Hy was gewapen en het op my afgestorm. Hy het oor die muurtjie gespring en my venster met sy pistool probeer oopslaan. Ter selfde tyd kon ek my ma en tannie hoor skree: “Nee, iemand help!”
“Die man het my deur oopgeruk, ‘n geweer teen my kop gehou en gesê: “Don’t scream, or I will shoot you!” Ek kon in my truspieëltjie sien hoe my ma en tannie neergegooi word. Ek het die man probeer afskrik deur die kar in trurat te sit en agteruit te ry. Terwyl ek agteruit gery het, het ek my deur hoor knak. Ek het besef dat ek moet stop voor ek oor my ma of tannie ry. Dit het die perfekte geleentheid vir die man geskep om my uit die kar te ruk terwyl die ander twee aanhou skree: “We will shoot you!” Terwyl ek opgestaan het, het my ma na die man in my kar gehardloop en sy hande in die deur probeer toeslaan. Hy het my ma met die pistool deur die gesig geslaan. Sy het op die grond geval. Daarna het hy uitgeklim, direk na my geloop en gesê: “I’m going to shoot her now!” My ma het gesoebat: “Please, please don’t shoot her! Just take the car! It’s okay, just take the car!” Terwyl sy pistool op my gerig was het ek hom self ook gevra: “Please don’t shoot me! Take the car!”. In die harwar het my tannie gesukkel om die hek verder oop te kry. Hul is met my kar direk in die hek in vas. Ek het kop probeer hou, my ma se foon van die grond af opgetel en op die eerste gemeenskapsgroep op my ma se foon my kar regestrasienommer deurgegee en vir hulp gevra. “Met ons geskree het die buurman ook kom help. As dit nie vir hom was nie…
“Hulle het toe met die half oop hek met my Suzuki Swift deurgejaag. Een van die mans het per voet gevlug. Die ander twee in my kar, met my handsak en al my persoonlike besittings in.”
“Ek wil net baie dankie sê aan elkeen! Die gemeenskap het ongelooflik vinnig opgetree en ek is julle vir ewig dankbaar! My tannie het tydelike geheueverlies en harsingskudding opgedoen. Ons vertroue in die regering, ELM (wat nie voorsiening maak vir hul betalende inwoners) is geskaad en daar is ‘n hartseer prentjie in ons siele ingeprent. “As dit nie vir die dae lange kragonderbreking was nie, sou ek en my ma nooit op daai tyd op daai plek gewees het nie.”


