18 dae sonder krag: ‘Emfuleni Aministrateur moet vervang word’
Gerda Senekal, VF Plus-raadslid: Emfuleni-plaaslike munisipaliteit eis namens die VF Plus in 'n mediaverklaring wat gister uitgereik is, dat die administrateur van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit, Willi Billa, weens sy onvermoë om in te gryp nadat ʼn elektriese kabel onklaar geraak het en ʼn groot gedeelte van Drie Riviere in Vereeniging agtien dae sonder krag gelaat het, vervang moet word.
Die onbevoegdheid van die Emfuleni-munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) om die 2,4km-kragkabel in Drie Riviere te vervang, het inwoners van dié gesogte buurt in opstand.
‘n Transformator wat Drie Riviere van elektrisiteit bedien, het agtien dae gelede onklaar geraak waarna die kragkabel in Ringweg onherstelbaar beskadig is. Die VF Plus word tans oorval met klagtes van inwoners en baie het reeds hul ontevredenheid tydens ‘n protesaksie getoon. Die VF Plus het reeds verskeie kere die administrateur gekontak en daarop aangedring dat die kabel aangekoop en vervang word. Beloftes van die administrateur en burgemeester, Gift Moerane, om die kabel te vervang, het nog op niks uitgeloop nie.
“Inwoners van Drie Riviere betaal getrou hul munisipale diensterekeninge (95% betaalsyfer) en daarom is dit onregverdig dat hulle ongerief verduur terwyl die munisipaliteit voete sleep. Die situasie kan nie onbepaald voortduur nie. Kragonderbrekings weens verouderde infrastruktuur kom gereeld voor in Emfuleni. Dit veroorsaak ook ‘n watertekort omdat pompstasies nie behoorlik kan funksioneer nie”, lui die verklaring.
Die VF Plus dring daarop aan dat die provinsiale regering daadwerklik ingryp, sy verpligting in gevolge van die Grondwet nakom en die administrateur vervang. Indien die provinsiale regering faal om sy verpligtinge in hierdie verband na te kom, sal die VF Plus versoek dat die nasionale regering ingryp.
