Local newsNewsNews
Mnr. Vaal: Energieke jong man met visie
VANDERBIJLPARK. – Werner Volschenk het die titel, Mnr. Vaal 2020/2021, op volle vaart verwerf en beplan nie om vinnig rem te trap nie.
“Ek wil die jaar regtig ‘n impak maak,” vertel hy oor ‘n reuse cappuccino. Hy is nie bang om self hard te werk nie. So het hy nou al gehelp om een naweek ‘n kinderhuis uit te verf en die volgende week hondehokke skoongemaak. Dan is daar die groot projek teen boelies wat hy saam met die Midvaal Leersentrum beplan.
Werner is self geboelie op skool nadat sy ma in 2007 haar eie lewe geneem het. Hy was toe in Gr. 5. In Gr. 6 was hy deel van ‘n skoolkamp by Maraneman on the Vaal wat ‘n positiewe, blywende impak op sy lewe gelaat het.

“My kampfasiliteerder het my so geïnspireer tydens daardie kamp. Weet jy, en nou is ek self ‘n kampfasiliteerder daar en hy is die eienaar. Ek kan nie wag om weer in Desember daar te werk nie,” vertel hy opgewonde.
Weens Covid-19 is geen kampe gehou nie en was hy werkloos. “Dit was nie net negatief nie,” verseker hy my dadelik. “Ek het die tyd gebruik om myself weer bietjie te vind. Introspeksie te doen. Energie te kry. En natuurlik sou ek nie alles kon doen wat ek nou doen as ek voltyds gewerk het nie.” Hy is baie dankbaar vir sy tannie, Handelien Volschenk en al sy borge wat hom bystaan en help met die uitvoering van sy projekte.

Werner het sy eerste titel as Mnr. Spiere verwerf nog voor hy in die skool was. Op laerskool was hy op in ‘n stadium Mnr. Valentyn en later jare Mnr. Matriek. Elkeen van hierdie kompetisies het hy gedoen vir die pret daarvan. Oor sy jaar as Mnr. Vaal is hy ernstig. “Ek wil regtig diep voetspore laat. Ek vra die hele tyd wat ek vir die Vaaldriehoek en sy mense kan doen?”
Hy is net 24 jaar oud, maar hy ken die lewe se donker- en sonskynkant en moes al verskeie uitdagings oorbrug. “Ek sê altyd, gaan jy jouself sit en jammer kry of gaan jy begin om goed te doen vir ander? Ek verkies om goed te doen,” sê hy beslis. Dan lag hy weer, en som homself in ‘n paar sinne op.
“Ek is Werner. Ek is wie ek is. Plat op die aarde. Bietjie van ‘n nerd wat van racing en rekenaargames hou. Ek hou van mense. Hoe meer ek het, hoe meer wil ek uitdeel. Die grootste les wat ek al geleer het is, dat omstandighede nie bepaal wie jy is nie.”
Inderdaad. Ons nuwe Mnr. Vaal het ‘n hart van goud en genoeg energie om die hele Vaaldriehoek ten goede op sy kop te keer!
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
