PowerBall-wennommers van 5,6,7,8,9,10 laat die oë rek!
Talle Facebookgebruikers eis 'n onafhanklike ondersoek na metode van trekking
Suid-Afrika is lankal in die buiteland berug vir die hoë vlakke van korrupsie en bedrog wat hier voorkom. Dinsdagaand se nasionale Powerball-trekking in Suid-Afrika is dus hoogs onder verdenking nadat die wennommers 5, 6, 7, 8, en 9 getrek is, met nommer 10 as bonusnommer!
Verskeie internasionale TV-stasies soos die BBC het vanoggend berig oor 1 Desember se trekking met dié onwaarskynlike reeks nommers. Soos wat verwag kan word, is daar groot agterdog…
Twintig spelers het die ongewone reeks nommers reg voorspel en wen elk R5 688 468.21 van die byna R114 miljoen jackpot.
Dit is glo die eerste keer ooit dat vyf opeenvolgende nommers in die internasionale gelukstrekking-spel getrek is. Die feit dat die bonusbal boonop ook daarop volg, is vir baie mense te dik vir ‘n daalder.
Só het PhandaPushaPlay die nommers gister op Twitter aangekondig: “Congratulations to 20 new multimillionaires who each won over R5 million on the PowerBall jackpot! 5, 6, 7, 8, 9, 10. What will your winning numbers be? Check your tickets now to see if you’re a winner #FestiveYamaMillions”. 
Jammer Vaaldriehoekers – dit lyk of niemand van ons deur dié ongewone gelukkie getref is nie!
Die wenners is van die volgende dorpe of stede:
Kempton Park
Oos Londen
Nelspruit
Roodepoort
Johannesburg
Marble Hall
Kimberley
Inanda
Kwamahlanga
Cathcart
Ballito
Klerksdorp
Kraaifontein
Durban
Pretoria
Talle oorblufte Facebook-gebruikers het intussen met woede gereageer omdat hulle meen hier het suursop deurgeloop, en eis dat ‘n ondersoek na die metode van gelukstrekkings in Suid-Afrika gedoen moet word.
Die wiskundige en statistikus, professor Marcus du Sautoy, wat die boek The Number Mysteries geskryf het, sê egter dit is wel moontlik dat sulke opvolgende nommers getrek kan word.
“Mense aanvaar “lukraak” of “ewekansig” (random) beteken “eweredig versprei” (evenly spaced). Maar ewekansige gebeure kan wel in so ‘n opeenvolgende reeks voorkom,” is sy mening.
